Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
“Wat maak jy hier?”
"Wat maak jy hier Elia?" (1 Kon. 19:13)
Daar was 'n oomblik in die profeet Elia se omswerwinge
dat hy uit vrees vir sy lewe moes vlug voor die goddelose koningin Isebel. Net
soos vir Adam en Eva, het die Here egter sy profeet opgesoek. "Wat maak jy
hier, Elia?" vra die Here vir horn waar Hy Elia in die grot besoek. Dit is
wonderlik dat ons God ons opsoek in tye wanneer ons wil wegkruip of wanneer gebeurtenisse
uit ons verlede ons uitsig op Hom belemmer.
So is daar dan ook vir die meeste van God se kinders
oomblikke waarvan hulle kan getuig: Die Here het my kom opsoek! Hoekom doen Hy
dit? Somtyds is dit omdat Hy ons wil
kom bemoedig; ander kere vermaan Hy ons om die regte pad te loop; soms het Hy
vir ons 'n spesiale taak, soos in die geval van Elia.
Dalk is jy op hierdie stadium van jou lewe besig om
van die Here af weg te hardloop vanweë ongehoorsaamheid, vrees of sonde.
"Wat maak jy hier?" geld dalk ook baie spesifiek vandag vir jou.
Onthou dan dat die nuwe dag met sy geleenthede vir jou
wink. Maak 'n regsomkeer as die koers van jou lewe nie reg is nie. Verander jou gesindheid en jou aanslag as
dit nodig is. Hou op om vir jouself jammer te wees, en kyk na die silhoeët van die Man van Nasaret wat
in jou plek krom
geloop het onder die gewig van 'n kruis sodat jy kan regop loop.
Vanweë die verkeerde dinge in ons verlede; soms as
gevolg van die feit dat ons al so dikwels beledig is of seergekry het;
partykeer omdat ons besig was — met sonde — of steeds is, is ons soos Adam en
Eva of Elia — ons kruip vir die Here weg. Ons is skaam of wil Hom nie sien nie.
Geen
mens kan egter vir die Here wegkruip nie. Los wat agter is en gryp na wat voorlê.
Ontwikkel die potensiaal wat die Here in jou gelê het. Loop die pad waarop Hy
jou wil stuur!
No comments:
Post a Comment