Friday, 22 April 2016

Oordenking - Wysheid sonder verwyt

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Wysheid sonder verwyt

As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt. (Jak. 1:5)

Geestelike rypheid van die geloof is nie 'n toestand wat eens en vir altyd bereik word nie. Dit is 'n proses van slyping en toetsing. So kan dit dan ook gebeur dat iemand op 'n gegewe oomblik geen raad meer weet nie. Hierdie insig ("wysheid") midde-in konkrete lewensomstandighede waar beslissinge geneem moet word, kan van God afgebid word.

Jakobus voeg egter op 'n verrassende manier daarby dat God dit dan sonder voorbehoud of verwyt sal voorsien. Dit gaan dus duidelik oor geeste­like insig, wat 'n gawe van God is, en wat tot beskikking van sy kinders is. Dit help ons om die regte besluite te neem, en dit verhoed dat ons sal te­rugval in die dwaashede waarin die onwedergebore mens sy vreugde vind.

Wysheid beteken die vermoë om te weet hoe God wil hê dat jy jou lewe moet inrig, en hoe jy in elke konkrete situasie moet optree. Hierdie wysheid is geen natuurlike wysheid wat 'n mens sommer vanself het, of uit boeke of by mense kan leer nie. Jy het dit net as jy God in gebed daar­voor vra, en Hy gee dit aan jou deur die Heilige Gees.

Dit is mos ook God wat deur sy Gees in jou woon, en Hy lei jou in die volle waarheid. Die wysheid wat die Gees aan 'n mens gee, verander nie net jou uitkyk op die lewe nie, maar ook jou hele lewenswyse. Dit sal dan ook uit 'n mens se daaglikse optrede blyk of jy hierdie wysheid het, en of jy dit elke dag konkreet toepas.

'n Mens het ook soms baie wysheid nodig as jy van lewensrigting wil verander. Die verlede hou jou soms soos 'n magneet vas, sodat jy nie jou­self uit daardie kragveld kan losruk nie. Dit is dan dat 'n mens besef jy kort wysheid. Bid dit dan van die Here, want Hy gee wysheid sonder ver­wyt.


No comments:

Post a Comment