Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Tot die môrester opkom in jou hart
Hierdie
boodskap is soos 'n lamp wat in 'n donker plek skyn. Julle sal goed doen as
julle in sy lig bly totdat die dag aanbreek en die môrester opkom in julle harte.
(2 Pet. 1:19)
O, daar is vir seker baie dinge in
jou en my lewe wat ons nie regtig verstaan nie. Hoekom gebeur slegte dinge met
my? Hoekom was daar al soveel hartseer in my lewe? Waarom moes ek 'n dierbare
aan die dood afgee? Al hierdie dinge het soms 'n uitwerking op my hele
persoonlikheid. Uiteindelik word ek 'n mens wat krom loop vanweë al die
vraagtekens wat op my skouers rus. Gelukkig is dit so dat die Bybel op sommige
van hierdie vrae duidelike antwoorde gee. Op ander kry ons egter nooit 'n
klinkklare antwoord nie. Ons kan egter in vertroue voortgaan omdat ons weet dat
ons uiteindelik al die antwoorde op ons baie vrae by die Here sal vind. Dan sal
al die vraagtekens ook verander word in uitroeptekens.
Ek ken baie Christene in wie se hart die helder lig
van God se boodskap dof is vanweë laste en vraagtekens. Petrus skryf in ons
teksgedeelte dat die boodskap soos 'n lamp is wat in 'n donker plek skyn. Daar
is dus geen rede dat selfs swaarkry en probleme jou gemoedstoestand hoef te verdonker
nie. Die vraag is nou: Wat doen ek en jy wanneer dit soms wel gebeur dat dit
skemer — en soms selfs donker — word in ons hart?
Totdat Jesus Christus, God se Lig vir die wêreld, self
terugkeer en ons met ons verheerlikte liggaam by Hom sal wees, is die Bybel die
lig wat God vir ons lewenspad gee. Aanvaar dan ook die dinge waarop jy nie antwoorde
kry nie. Wees tevrede met die dinge wat jy nie kan verander nie. Lewe in die
lig van God se Woord totdat die dag aanbreek en die môrester finaal opkom in jou
hart.
No comments:
Post a Comment