Friday, 24 June 2016

Oordenking - Jy het 'n herder

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Jy het ‘n herder

Die Here is my herder; ek kom niks kort nie. Selfs al gaan ek deur don­ker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. (Ps. 23:1, 4)

As 'n mens 'n teenvoeter vir spanning en stres wil soek, sal dit seker al­gehele tevredenheid en totale geborgenheid wees. En as jy vir God as jou herder het, kan hierdie tevredenheid en geborgenheid joune wees. Het jy al na 'n trop skape gekyk wat rustig in die veld wei? Dit is die beeld wat Dawid in Psalm 23 wil skilder: die van algehele rustigheid omdat daar Iemand is wat vir jou sorg. Dawid ken die eienskappe van hierdie herder baie goed, juis omdat by vir 'n lang ruk sy pa se skape opgepas het.

As God jou herder is, beteken dit dat jy nie langer vir jouself 'n pad hoef oop te veg in die kompeterende wêreld nie — jy het 'n herder wat die pad vir jou vooruitloop. Jy hoef nie langer bang te wees vir dreigende ge­vare nie, want jy het 'n herder wat jou te alle tye sal beskerm. God is vir jou 'n herder wat jou in groen weivelde laat rus en jou by waters bring waar daar vrede is. 'n Herder wat vir jou sy goedheid en liefde, sy krag en veiligheid wil kom aanbied — tot op die dag wanneer jy vir altyd in sy huis sal wees. 'n Herder wat jou só liefhet, dat Hy selfs gewillig is om sy lewe vir jou af te lê. En wanneer daar donker dieptes in jou lewe kom, ook dan is jou herder by jou om jou in sy arms deur die gevare te dra. Hy sal elke tree van die lewenspad met jou saamloop, tot anderkant die doodsvallei, waar jy vir altyd saam met Hom in die hemel sal wees.


In die hande van hierdie herder kan jy al jou stres en spanning laat, ­vir Hom kan jy van al jou vrese vertel. Hy sal vir jou sy vrede gee, omdat jy met Hom by jou nooit weer enigiets sal kortkom nie.

Friday, 17 June 2016

Oordenking - God het jou lief

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

God het jou lief

"God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, so­dat die wat in Homglo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê" (Joh. 3:16)

Toe die Duitse teoloog Karl Barth 80 jaar oud was, het 'n groep joernaliste horn in 'n onderhoud gevra of hy al sy boeke in een sin kon opsom. "Dis maklik," het Barth geantwoord: "Jesus min my salig lot! Dit weet ek uit die woord van God."

Wanneer jy iemand of iets verloor wat vir jou baie werd was, wanneer jou eiewaarde of toekomsgeluk bedreig word, ervaar 'n mens maklik 'n gevoel van ongedefinieerde woede. Geleerdes sê dat hierdie woede baie­maal later in depressie omgesit word. Probleme word soms vererger deur skuldgevoelens. Christene voel dikwels dat God hulle verwerp het, omdat hulle nie sy liefde en sorg verdien nie. Christene, so meen hulle, behoort mos altyd vol vreugde en hoop te wees — en die felt dat hulle dit nie so be­leef nie, dompel hulle in 'n geestelike tweestryd.

Miskien voel jy ook vandag skuldig dat God vir jou so ver en vreemd voel. Dat jy bid en nie 'n antwoord op jou gebede kry nie. Dat jy jou ver­troue in God verloor het. Maar indien jy 'n kind van God is, is daar een ding wat niemand ooit van jou kan wegneem nie: die feit dat God jou on­eindig liefhet. Só lief dat Hy gewillig was om sy enigste Seun in jou plek te laat sterf sodat jou plek in die hemel gewaarborg is mits jy in Hom glo.


Al gaan alles met jou verkeerd, al kan jy uit jouself niks regkry nie, al voel jy hopeloos en radeloos, kan jy nog steeds vashou aan hierdie lewens­lyn: God het jou baie lief, en omdat Hy jou só liefhet, wil Hy sy vreugde en vrede in jou lewe gee. Vra Hom sommer nou om dit te doen.

Oordenking - Hou maar op met huil

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Hou maar op met huil

Hoor tog my gebed, Here, luister na my hulpgeroep; moet tog nie koud staan teenoor my trane nie, want ek is net op u beskerming aangewese ... (Ps. 39:13)

God ken jou deur en deur. Daar is heeltemal niks wat jy vir Hom kan wegsteek nie. Hy weet alles van jou af. Hy weet ook van jou hartseer waarvan niemand anders bewus is nie. En omdat Hy jou só ken, kan Hy jou ook volkome vertroos.

Niemand hou eintlik daarvan om voor ander mense te huil nie. Alhoe­wel dit goed mag wees, en jou stresvlak laat daal, maak dit jou skaam en moedeloos as jy sommer vir niks aan die huil gaan. (En hierdie ontydige trane is juis een van die simptome van stres en depressie.) Ondervind jy dat jou trane bra vlak sit? Die Here wil graag jou trane afdroog.

Dawid vra in Psalm 39:13 dat God sy trane moet afdroog. Soos jy, kan Dawid in hierdie psalm nie verstaan waarom God se kinders so swaar in die wêreld moet kry nie. Maar as hy eers met God besig raak, besef hy sy eie nietigheid en God se grootheid. Hy weet nou dat sy trane en moedeloos­heid onnodig is, omdat God almagtig is en hom altyd, in alle omstandighede kan help.

God sien elkeen van jou trane raak — omdat Hy jou so liefhet, kan Hy nooit koud staan teenoor jou hartseer nie. Blaai na Jesaja 30:19 en lees wat God duisende jare tevore al vir sy yolk gesê het.


As jy vandag baie swak en tranerig voel, as niks vir jou reg wil loop nie, as spanning dreig om die oorhand oor jou te kry, probeer om rustig te word. Weet dat die God wat jy aanbid graag vir jou wil sorg en jou trane wil afdroog — maar dan moet jy Hom toelaat om dit te doen.

Friday, 10 June 2016

Oordenking - Tel jou seëninge

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Tel jou seëninge

Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het, is vir my mooi. (Ps. 16:5, 6)

Ek het eenmaal na 'n spreekster geluister wat oorgeborrel het van lewens­vreugde en haar gehoor aan die skater gehou het. Na afloop van die praatjie het 'n vriendin my vertel dat sy aan 'n kroniese siekte ly, kort gelede beide haar man en seun verloor het en dat dit finansieel glad nie goed met haar gaan nie. "Hoe kry jy dit reg om onder die omstandighede so positief te wees?" wou ek by haar weet. "Sodra ek pessimisties wil raak, tel ek net my seëninge," was haar antwoord.

Wanneer 'n mens stres en depressie ervaar sal jy daarby baat vind om jou seëninge te tel. Wanneer dit baie sleg met jou gaan, vergelyk jy jou ge­woonlik met mense met wie dit baie beter gaan. Maar eintlik is daar dui­sende mense wat dit nog baie swaarder het as jy. Sodra jy dit besef, sal jou eie stuk swaarkry nie meer so moeilik wees om te verwerk nie. "Toe ek kaalvoet was en nie skoene kon koop nie, het ek begin kla," skryf die Rus­siese skrywer Tolstoi. "Totdat ek 'n man gesien het wat nie bene gehad het nie. Toe het ek God gedank vir my bene, en dat ek maar net skoene kortgekom het."


Daar is só baie mense in die wêreld wat slegter daaraan toe is as jyself. Besluit van vandag af om dankbaar te lewe, dankbaar in alle omstandig­hede, omdat dit is wat God van jou verwag (vgl. 1 Tess. 5:18). Leer om jou seëninge te tel. Maak 'n lysie van die dinge waaroor jy vandag dankbaar kan wees, en loof die Here vir elkeen. Ek wil jou wed dat jy daarna heelwat minder depressief en gespanne sal voel.

Oordenking - Moenie bang wees nie

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Moenie bang wees nie

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. (1 Joh. 4:18)

Nog 'n oorsaak van stres is vrees: vrees vir die toekoms, vrees vir siekte, vrees vir finansiële probleme. Maar vir hierdie vrees is daar 'n onfeilbare medisyne: as God se liefde jou lewe vul, bly daar nie plek oor vir onge­gronde vrese nie. As jy met jou lewensverhaal die ruimte van die liefde van God binnegaan, staan daar op die deur van die ruimte: "Vrees verbode," skryf die Duitse teoloog, Karl Barth.

Is daar baie dinge waarvoor jy op die oomblik bang is? Dinge wat jou snags laat wakker lê, dinge wat 'n knop op jou maag laat en jou jou naels laat kou? Kom ons doen 'n eksperiment. Neem 'n stukkie papier en skryf al die dinge daarop neer waarvoor jy 'n jaar gelede bang was. Hoeveel van daardie dinge het met jou gebeur? Ek wil byna wed dat dit 'n baie klein persentasie is. Die meeste van ons bring ons dae deur met vrese wat ons wil versmoor, net om na 'n tydjie agter te kom dat bitter min van daardie dinge waarvoor ons so bang was, uiteindelik met ons gebeur het.


Die Here weet van elkeen van jou vrese — geldiges en ongegrondes. Toe Daniël baie bang was, het Hy sy engel na hom toe gestuur met die pragtige boodskap: "Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!"... (Dan. 10:19). God het nog niks verander nie. Hy is nog dieselfde liefdevolle God wat vir Daniël bemoedig het. Daarom wil Hy vandag vir jou kom sê dat jy óók nie hoef bang te wees nie, dat jy sterk kan wees, omdat dit met jou goed sal gaan, want God het jou lief. Só lief dat Hy sy Seun gestuur het om in jou plek aan die kruis te sterf, sodat jy, as jy in Hom glo, eens en vir altyd van jou vrese verlos kan word.