Friday, 10 June 2016

Oordenking - Moenie bang wees nie

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Moenie bang wees nie

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie. (1 Joh. 4:18)

Nog 'n oorsaak van stres is vrees: vrees vir die toekoms, vrees vir siekte, vrees vir finansiële probleme. Maar vir hierdie vrees is daar 'n onfeilbare medisyne: as God se liefde jou lewe vul, bly daar nie plek oor vir onge­gronde vrese nie. As jy met jou lewensverhaal die ruimte van die liefde van God binnegaan, staan daar op die deur van die ruimte: "Vrees verbode," skryf die Duitse teoloog, Karl Barth.

Is daar baie dinge waarvoor jy op die oomblik bang is? Dinge wat jou snags laat wakker lê, dinge wat 'n knop op jou maag laat en jou jou naels laat kou? Kom ons doen 'n eksperiment. Neem 'n stukkie papier en skryf al die dinge daarop neer waarvoor jy 'n jaar gelede bang was. Hoeveel van daardie dinge het met jou gebeur? Ek wil byna wed dat dit 'n baie klein persentasie is. Die meeste van ons bring ons dae deur met vrese wat ons wil versmoor, net om na 'n tydjie agter te kom dat bitter min van daardie dinge waarvoor ons so bang was, uiteindelik met ons gebeur het.


Die Here weet van elkeen van jou vrese — geldiges en ongegrondes. Toe Daniël baie bang was, het Hy sy engel na hom toe gestuur met die pragtige boodskap: "Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!"... (Dan. 10:19). God het nog niks verander nie. Hy is nog dieselfde liefdevolle God wat vir Daniël bemoedig het. Daarom wil Hy vandag vir jou kom sê dat jy óók nie hoef bang te wees nie, dat jy sterk kan wees, omdat dit met jou goed sal gaan, want God het jou lief. Só lief dat Hy sy Seun gestuur het om in jou plek aan die kruis te sterf, sodat jy, as jy in Hom glo, eens en vir altyd van jou vrese verlos kan word.

No comments:

Post a Comment