Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Tel jou seëninge
Here, U is my lewe, U sorg vir my. Wat ek
ontvang, kom alles van U af. 'n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek
ontvang het, is vir my mooi. (Ps. 16:5, 6)
Ek het eenmaal na 'n
spreekster geluister wat oorgeborrel het van lewensvreugde en haar gehoor aan
die skater gehou het. Na afloop van die praatjie het 'n vriendin my vertel dat
sy aan 'n kroniese siekte ly, kort gelede beide haar man en seun verloor het en
dat dit finansieel glad nie goed met haar gaan nie. "Hoe kry jy dit reg om
onder die omstandighede so positief te wees?" wou ek by haar weet.
"Sodra ek pessimisties wil raak, tel ek net my seëninge," was haar
antwoord.
Wanneer 'n mens
stres en depressie ervaar sal jy daarby baat vind om jou seëninge te tel.
Wanneer dit baie sleg met jou gaan, vergelyk jy jou gewoonlik met mense met
wie dit baie beter gaan. Maar eintlik is daar duisende mense wat dit nog baie
swaarder het as jy. Sodra jy dit besef, sal jou eie stuk swaarkry nie meer so
moeilik wees om te verwerk nie. "Toe ek kaalvoet was en nie skoene kon
koop nie, het ek begin kla," skryf die Russiese skrywer Tolstoi.
"Totdat ek 'n man gesien het wat nie bene gehad het nie. Toe het ek God
gedank vir my bene, en dat ek maar net skoene kortgekom het."
Daar is só
baie mense in die wêreld wat slegter daaraan toe is as jyself. Besluit van
vandag af om dankbaar te lewe, dankbaar in alle omstandighede, omdat dit is
wat God van jou verwag (vgl. 1 Tess. 5:18). Leer om jou seëninge te tel. Maak
'n lysie van die dinge waaroor jy vandag dankbaar kan wees, en loof die Here
vir elkeen. Ek wil jou wed dat jy daarna heelwat minder depressief en gespanne
sal voel.
No comments:
Post a Comment