Friday, 17 June 2016

Oordenking - Hou maar op met huil

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Hou maar op met huil

Hoor tog my gebed, Here, luister na my hulpgeroep; moet tog nie koud staan teenoor my trane nie, want ek is net op u beskerming aangewese ... (Ps. 39:13)

God ken jou deur en deur. Daar is heeltemal niks wat jy vir Hom kan wegsteek nie. Hy weet alles van jou af. Hy weet ook van jou hartseer waarvan niemand anders bewus is nie. En omdat Hy jou só ken, kan Hy jou ook volkome vertroos.

Niemand hou eintlik daarvan om voor ander mense te huil nie. Alhoe­wel dit goed mag wees, en jou stresvlak laat daal, maak dit jou skaam en moedeloos as jy sommer vir niks aan die huil gaan. (En hierdie ontydige trane is juis een van die simptome van stres en depressie.) Ondervind jy dat jou trane bra vlak sit? Die Here wil graag jou trane afdroog.

Dawid vra in Psalm 39:13 dat God sy trane moet afdroog. Soos jy, kan Dawid in hierdie psalm nie verstaan waarom God se kinders so swaar in die wêreld moet kry nie. Maar as hy eers met God besig raak, besef hy sy eie nietigheid en God se grootheid. Hy weet nou dat sy trane en moedeloos­heid onnodig is, omdat God almagtig is en hom altyd, in alle omstandighede kan help.

God sien elkeen van jou trane raak — omdat Hy jou so liefhet, kan Hy nooit koud staan teenoor jou hartseer nie. Blaai na Jesaja 30:19 en lees wat God duisende jare tevore al vir sy yolk gesê het.


As jy vandag baie swak en tranerig voel, as niks vir jou reg wil loop nie, as spanning dreig om die oorhand oor jou te kry, probeer om rustig te word. Weet dat die God wat jy aanbid graag vir jou wil sorg en jou trane wil afdroog — maar dan moet jy Hom toelaat om dit te doen.

No comments:

Post a Comment