Friday, 30 September 2016

Oordenking - Op God se skoot

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Op God se skoot

Geen versoeking as wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan. (1 Kor 10:13)

Voel jy op die oomblik asof jy gedaan gespartel is? Het jy vir weke lank tevergeefs probeer om self jou probleme op te los, om self alles wat op jou wag, gedoen te kry, om self verantwoordelikheid te aanvaar vir alles wat in jou lewe verkeerd geloop het? Dan het dit vir jou tyd geword om boedel oor te gee. Tyd dat jy laat los en vir God toelaat om weer orde te skep uit die warboel waarin jou lewe op die oomblik verkeer.

Daar is net een plek waar 'n bang, onrustige kleuter rustig word, en dit is in die omarming op die skoot van haar ma.

Eien dus die belofte in Jesaja 66 vir jou persoonlik toe: So sê die Here: Ek laat vrede na haar toe aankom sons 'n rivier, Ek laat die rykdom van die nasies na haar toe stroom. hulle sal ... op haar skoot getroetel word. Soos 'n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel (Jes. 66:12-13).

Wanneer jou eie kragte opraak, is God se geweldige krag tot jou beskik­king. Hy wil jou graag help. Op God se skoot, in die sirkel van sy ewige arms, kan jy al jou stres, al die oorsake van jou depressie, al jou vrese en bekommernis agter jou laat, want daar is jy volkome veilig. Vir altyd.


Friday, 23 September 2016

Oordenking - Leer jou kind stres hanteer

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Leer jou kind stres hanteer

Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet beef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie. (Spr. 22:6)

Moderne kinders word aan baie meer stres blootgestel as vroeër. Van kleins af is kinders se programme oorvol, en van jongs af word hulle aan geweldige groepsdruk blootgestel. Veral as jou kind nie 'n uitblinker is nie, kan dit baie spanning veroorsaak wanneer hy swakker presteer as sy maats. As ouer behoort jy 'n ogie te hou oor die stresvlak van jou kind. Meer nog, jy behoort jou kind van jongs af te leer om 'n goeie selfbeeld te ontwikkel en hoe om stres te hanteer. Probeer veral om spanningsimptome by jou kind op 'n vroeë stadium raak te sien.

Dit is baie belangrik dat jou kind te alle tye sal weet dat jy hom onvoor­waardelik liefhet en vertrou, maar dat jy hom ook sal dissiplineer. Dit is net so belangrik dat jy beskikbaar sal wees vir jou kind, dat jy tyd sal maak om met hom te praat en na hom te luister. Wanneer jou kind ervaar dat jy werklik in sy doen en late belangstel, sal hy met vrymoedigheid sy probleme met jou bespreek.

Wanneer kinders besef dat hulle ouers hulle onvoorwaardelik liefhet, sal dit vir hulle makliker wees om stres in hulle eie lewe te hanteer en tot gebalanseerde, vervulde volwassenes te ontwikkel.

Wys jou kind dat jy hom liefhet. Hou hom vas en gee hom gereeld 'n drukkie. Leer jou kind van kleins af om die Here lief te hê. As jyself dan die liefde van Christus rondom jou kind uitleef, sal hy heel waarskynlik ook vir God lief wees, en ook as hy ouer is, die Bybelse riglyne gehoorsaam. Dit is oor en oor bewys dat mense wat vir God gekies het, die beste in staat is om stres en depressie positief te hanteer.


Friday, 16 September 2016

Oordenking - Teleurstellings op jou pad

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Teleurstellings op jou pad

" ... As ons die goeie van God aanvaar; moet ons nie ook die slegte aan­vaar nie?" (Job 2:10)

Daar kom teleurstellings op elke mens se pad. Nie een van ons kan hulle vryspring nie. “Jy moet eens en vir altyd ophou om jou oor jou suksesse en mislukkings te bekommer,” skryf die Russiese romanskrywer Tsjechof. “Doen net jou plig en gaan elke dag doelgerig voort. Wees voorbereid op mislukkings, hulle is onvermydelik.”

Alhoewel mislukkings deel van elke mens se lewe is, is hulle nogtans moeilik om te verwerk, en kan hulle jou gefrustreerd, mistroostig en soms woedend maak. Miskien het jy kort tevore 'n liefdesteleurstelling ervaar, miskien het jou kind nie sy universiteitsjaar deurgekom nie, miskien het jy uitgevind dat jou man 'n buite-egtelike verhouding het, en nou voel dit vir jou of jou wêreldjie in duie gestort het. Hierdie teleurstelling wat jy nie verwag het nie, laat jou stresvlak die hoogte inskiet. Jy het nog altyd gedink dat sulke dinge met ander mense gebeur, nie met jou nie — en nou is jy platgeslaan deur die pyn daarvan.

Daar is nie verniet 'n spreekwoord wat lui dat ons teleurstellings baie­maal God se bestellings is nie. Na 'n lang tyd verloop het, sal jy ontdek dat daardie teleurstelling waaroor jy nou so gespanne en depressief is, selfs goed was vir jou. Want God gebruik soms teleurstellings om sy kinders weer afhanklik van Hom te maak.


Aanvaar dus die teleurstellings en mislukkings in jou lewe. Daar is altyd vir jou 'n kans om weer te probeer. En onthou dat daar een plek is waar jy nooit, ooit teleurgestel kan word nie. Gaan onderstreep gerus1 Petrus 2:6 in jou Bybel: “Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”

Friday, 9 September 2016

Oordenking - In God se arms

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

In God se arms

"... Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie. Julle het in die woestyn ondervind hoe die Here jullle God julle die hele pad ... gedra het soos 'n man sy seun dra.'" (Deut. 1:29, 31)
Sommige stories is so holrug gery dat 'n mens huiwer om hulle hoege­naamd te gebruik, tog bly hulle so lewenswaar dat jy hulle nie kan uitlaat nie. Almal ken sekerlik die storie van die man wat saam met God langs die strand gestap het en twee rye voetspore in die sand gesien het. Syne en God s'n. Maar op sommige plekke, juis wanneer hy in 'n krisissituasie verkeer het, was daar net een ry spore. "Waar was U dan toe dit so moeilik met my gegaan het?" wou die man van God weet. "Daardie tye het Ek jou gedra," was God se antwoord.

God is vandag nog daar vir sy kinders. Wanneer hulle in krisisse kom, hoef hulle nie bang te word of te skrik nie, omdat God belowe om hulle deur daardie krisisse te dra. As daar dinge in die toekoms op jou wag waarvoor jy hoegenaamd nie kans sien nie, kan jy op God vertrou. Hy on­derneem dat Hy ook vir jou deur daardie probleme sal dra soos wat Hy lank gelede sy volk deur die woestyn gedra het. God wil ook vir jou dra as daar woestyndae vir jou voorlê. Hy wil graag vir jou 'n hulp wees.

"Geen troos is sterker as die sekerheid dat jy midde-in jou nood deur die liefde van God omsluit word nie," skryf die kerkvader Calvyn. Partykeer verander God nie dadelik jou omstandighede nie, maar gee Hy jou die wysheid om die krisis te hanteer en te verwerk. Vertrou Hom om dit te doen, en jy sal ontdek dat wanneer jy jou krisissituasie met God se hulp een dag op 'n slag hanteer, dit glad nie so erg is as wat jy gevrees het nie.


Friday, 2 September 2016

Oordenking - Jy is kosbaar vir God

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Jy is kosbaar vir God

Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. (Jes. 43:4)

'n Mens wat aan spanning ly of depressief is, het gewoonlik ook 'n negatie­we selfbeeld. Hy sien homself as 'n mislukking. Hy worstel met skuldge­voelens en woede — hy is seker dat hy vir niks meer goed is nie, en dat niemand hom liefhet of in hom belangstel nie — ook nie God nie.

As jy op die oomblik sulke negatiewe gevoelens beleef, is dit baie be­langrik dat jy weereens sal besef dat God jou liefhet en aanvaar net soos jy is. En al kan jy op die oomblik nie aan 'n enkele mens dink wat jou onvoor­waardelik liefhet nie, is God nog daar vir jou. Presies hoe kosbaar jy vir Hom is, kan jy in Jesaja 43 se eerste elf verse gaan lees: God het jou ge­maak, Hy het jou op jou naam geroep, jy behoort aan Hom. Hy is bereid om mense in jou plek te gee, volke in ruil vir jou lewe. Hy verseker jou dat Hy by jou sal wees as jy deur water moet gaan, dat riviere jou nie sal wegspoel nie, dat vuur jou nie sal skroei nie. Hy het jou na sy beeld ge­skape, staan daar in Genesis 1:27. Hy het jou net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en jou met eer en aansien gekroon, sê die digter in Psalm 8:6. En, die onomstootlikste bewys van almal: Hy het sy Seun gegee om aan 'n kruis te sterf, sodat jou sondes vergewe kan word.


Vir God is jy dus baie belangrik, alhoewel Hy groot en almagtig en jy klein en nietig is. Hy het jou spesiaal gekies om sy kind te wees. Wanneer jy weer voel dat jy minderwaardig is, dat jy nie raakgesien en waardeer word nie, onthou hoe kosbaar jy vir God is. En dit is mos onmoontlik om depressief te bly as God jou so liefhet!