Friday, 23 September 2016

Oordenking - Leer jou kind stres hanteer

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Leer jou kind stres hanteer

Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet beef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie. (Spr. 22:6)

Moderne kinders word aan baie meer stres blootgestel as vroeër. Van kleins af is kinders se programme oorvol, en van jongs af word hulle aan geweldige groepsdruk blootgestel. Veral as jou kind nie 'n uitblinker is nie, kan dit baie spanning veroorsaak wanneer hy swakker presteer as sy maats. As ouer behoort jy 'n ogie te hou oor die stresvlak van jou kind. Meer nog, jy behoort jou kind van jongs af te leer om 'n goeie selfbeeld te ontwikkel en hoe om stres te hanteer. Probeer veral om spanningsimptome by jou kind op 'n vroeë stadium raak te sien.

Dit is baie belangrik dat jou kind te alle tye sal weet dat jy hom onvoor­waardelik liefhet en vertrou, maar dat jy hom ook sal dissiplineer. Dit is net so belangrik dat jy beskikbaar sal wees vir jou kind, dat jy tyd sal maak om met hom te praat en na hom te luister. Wanneer jou kind ervaar dat jy werklik in sy doen en late belangstel, sal hy met vrymoedigheid sy probleme met jou bespreek.

Wanneer kinders besef dat hulle ouers hulle onvoorwaardelik liefhet, sal dit vir hulle makliker wees om stres in hulle eie lewe te hanteer en tot gebalanseerde, vervulde volwassenes te ontwikkel.

Wys jou kind dat jy hom liefhet. Hou hom vas en gee hom gereeld 'n drukkie. Leer jou kind van kleins af om die Here lief te hê. As jyself dan die liefde van Christus rondom jou kind uitleef, sal hy heel waarskynlik ook vir God lief wees, en ook as hy ouer is, die Bybelse riglyne gehoorsaam. Dit is oor en oor bewys dat mense wat vir God gekies het, die beste in staat is om stres en depressie positief te hanteer.


No comments:

Post a Comment