Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Teleurstellings op jou pad
" ... As ons die goeie van God aanvaar;
moet ons nie ook die slegte aanvaar
nie?" (Job 2:10)
Daar kom teleurstellings op
elke mens se pad. Nie een van ons kan hulle vryspring nie. “Jy moet eens en vir altyd ophou om jou oor jou
suksesse en mislukkings te bekommer,” skryf die Russiese romanskrywer Tsjechof. “Doen
net jou plig en gaan elke dag doelgerig voort. Wees voorbereid op mislukkings,
hulle is onvermydelik.”
Alhoewel mislukkings deel
van elke mens se lewe is, is hulle nogtans moeilik om te verwerk, en kan hulle
jou gefrustreerd, mistroostig en soms woedend maak. Miskien het jy kort tevore
'n liefdesteleurstelling ervaar, miskien het jou kind nie sy universiteitsjaar
deurgekom nie, miskien het jy uitgevind dat jou man 'n buite-egtelike
verhouding het, en nou voel dit vir jou of jou wêreldjie in duie gestort het.
Hierdie teleurstelling wat jy nie verwag het nie, laat jou stresvlak die hoogte
inskiet. Jy het nog altyd gedink dat sulke dinge met ander mense gebeur, nie
met jou nie — en nou is jy platgeslaan deur die pyn daarvan.
Daar is nie verniet 'n
spreekwoord wat lui dat ons teleurstellings baiemaal God se bestellings is
nie. Na 'n lang tyd verloop het, sal jy ontdek dat daardie teleurstelling
waaroor jy nou so gespanne en depressief is, selfs goed was vir jou. Want God
gebruik soms teleurstellings om sy kinders weer afhanklik van Hom te maak.
Aanvaar dus die
teleurstellings en mislukkings in jou lewe. Daar is altyd vir jou 'n kans om
weer te probeer. En onthou dat daar een plek is waar jy nooit, ooit
teleurgestel kan word nie. Gaan onderstreep gerus1 Petrus 2:6 in jou Bybel: “Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip, uitverkies
vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”
No comments:
Post a Comment