Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.
DIT IS LEKKER OM
RYK TE WEES
"Moenie vir julle skatte op die aarde bymekaar maak waar mot en
roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte
in die hemel bymekaar; waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie
inbreek en dit steel nie." (Matt. 6:19-20)
“He who collects the most goodies wins.” Vir baie
gaan dit net oor geld en besittings. Mense wat baie geld het, het mos baie mag.
Hulle kan doen net wat hulle wil.
Hierdie drang van mense om
baie dinge te besit, is nie 'n moderne verskynsel nie. Toe Jesus op aarde was
het Hy dit ook dikwels teëgekom. Daarom dat Hy op 'n dag in die bergrede hierby
aangesluit het deur te sê dat mens inderdaad vir jou skatte bymekaar moet maak
terwyl jy nog die kans het. Maar Hy het egter 'n belangrike kwalifikasie hierby
gevoeg. Jesus sê dat mens jou skatte by die regte “bank” moet belê.
lemand wat daarop uit is om
geld te maak, weet dat dit belangrik is om alle kosbare besittings veilig te
belê, anders neem skelms en inflasie dit op 'n goeie dag uit jou hande uit. En
omdat Jesus die verskillende “beleggingsmarkte” hier op aarde die beste van
almal ken, beveel Hy mense aan om hul skatte reg te belê, by God self. Want
slegs by God se “hemelse bank” is jou skatte vir altyd veilig. Geen dief kan
immers hier korn inbreek nie. Boonop lewer die hemelse bank die heel beste
diwidende op, die ewige lewe. Op tydelike gebied lewer dit blydskap, vrede en
hoop op.
'n Belegging by God se bank
beteken dat jy jou hele lewe onvoorwaardelik aan Hom moet toevertrou. Dit vra
dat jy afstand sal doen van alle “tekenregte” op die rekening van jou eie lewe
en dit aan God sal oorlaat om jou lewe voortaan te bestuur. So 'n belegging
lewer ewige resultate op.
'n Geseënde in God se oë is
iemand wat sy of haar lewe reg belê het. Dit is die persoon wat die meeste van
al die regte skatte bymekaar gemaak het en wat dus op die ou end die ewige lewe
as prys gaan wen.
No comments:
Post a Comment