Tuesday, 30 March 2021

Die positiewe kant van Covid 19

 

DIE POSITIEWE KANT VAN COVID 19

Covid 19 het die wêreld onverwags en onvoorbereid getref.  HIV-VIGS was onder beheer, maar skielik was hier ‘n nuwe, gevaarliker en bedreigende vyand in ons midde.  Nuwe vrese het paniek laat onstaan en mediese navorsers het rondgeskarrel om oplossings vir die onbekende virus wat baie mense siek maak, en ander hulle lewens laat verloor, te vind.   Ons het besef dat ons met ‘n krisis te make het, en dat nuwe uitdagings ons in die gesig staar.

Ons lewensstyl moes oornag verander en die toekoms wat ons gesondheid betref, was onseker en saam daarmee het angstigheid ontstaan vanweë die gebrek aan kennis oor die virus en die gevolge daarvan  Ons was met onsself gekonfronteer en ons het met ander oë ook na ons omgewing begin kyk. Ons het gaandeweg begin besef dat ons met nuwe, onvoorspelbare omstandighede sal moet saamleef en oplossings  op beide emosionele en konkrete gebied sal moet vind met die wete dat die Covid 19 virus ons nie onaangeraak sal laat nie. Ontkenning was vir baie van ons ‘n uitweg maar dit het nie aaklige waarheid van die statistieke laat verdwyn nie.

Ons  ervarings van Covid 19 het ons die skrik op die lyf gejaag maar het tog ook positiewe gevolge wat ook in die toekoms uitgewys sal word. Die Covid pandemie het ons genoop om  die “nuwe normaal” te aanvaar met die besef dat dit  ‘n nuwe lewenswyse sal word wat met nuwe aanpassings gekenmerk sal word want ons weet nie hoe lank die virus nog ‘n bedreiging sal wees nie.

Isak Burger voel dat daar in die jaar van inperking meer mense hulle lewe aan God gewy het as in enige jaar tevore.  Hy noem ook dat in vele lande waar daar reeds jarelange onderdrukking en vervolging is, kwalitatiewe en kwantitatiewe groei van die kerk bevorder eerder as benadeel is.  Verder meld hy dat terwyl kerkdienste verbied of ingeperk is, is daar wêreldwyd meer Bybels elektronies versprei en word meer mense deur die Evangelie op sosiale media bereik as ooit tevore. Kerkdienste was verbied wat baie van ons die waarde van gesamentlike aanbieding laat besef het en ‘n nuwe waardering van kerkdienste laat maak het toe beperkings gelig is. Ons het ons gesinne, vriende en gesondheidswerkers met groter dringendheid aan die Here in gebede begin opdra met ‘n groter bewustheid van ons afhanklikheid van God.  Covid 19 het dus op geestelike gebied groot en belangrike veranderings tot gevolg gehad.

Die impak van die pandemie op die ekonomie en nuusberigte oor mense wat hulle werk verloor het en sonder inkomste gelaat, het ons by hernuwing die noodsaaklikheid van barmhartlikheid laat besef en het ons geleenthede aangegryp om te gee. Ons het besef hoe nodig ons mekaar in tye van nood het.

Weens veiligheidsmaatreës wat deur regerings- en gesondheidsinstansies voorgestel is, het ons ook baie bewus geraak van ons gesondheid  en ‘n nuwe waardering daarvoor ontwikkel,  ook vir die lewe in die lig van die dodelike virus. Ons het ons gedissiplineerdheid begin opskerp met ook ‘n groter bewustheid van ons verantwoordelikheid teenoor ander. 

Ter opsomming kan gesê word dat, benewens die hartseer en verliese wat Covid 19 veroorsaak het en nog steeds doen, ‘n positiewe uitkoms is dat ons voortdurend ons lewenswyses- en styl innerlik en na buite moes ondersoek het in pogings om nuwe aanpassings te maak in ‘n onvoorspelbare situasie.

Ons weet nie hoe die virus ons in die toekoms nog gaan raak nie, maar ons is beslis meer paraat en voorbereid daarvoor as ‘n jaar gelede.

Pedro Rankin

No comments:

Post a Comment