Tuesday, 23 March 2021

'n Kritiese vraag aan die Kerk: Is Covid 19 God se straf?

 

Is Covid 19 God se straf?

Andries Liebenberg, Februarie 2021

Wanneer ‘n groot ramp soos die huidige Covid-19 epidemie ons tref is die vraag wat onmiddellik by gelowiges opkom, is die rampe epidemies wat die wêreld tref God se straf op ons sonde? Dit is dieselfde vraag wat Job se vriende gevra het. Hul het geredeneer dat die enigste verklaring vir Job se probleme is dat hy gesondig het en daarom deur God gestraf word. God het geantwoord dat sy vriende verkeerd is. Jesus het in Joh. 9 gesê dat nie die blinde man of sy ouers gesondig het nie. Wat gebeur het was bedoel om God te verheerlik. Dit wat met die blinde man en Job gebeur het was buite hulle beheer. Die Bybel leer ons dat die doel daarmee was sodat God verheerlik kan word deur hulle lewens. Dieselfde geld nou ook vir die Covid-19 pandemie. Ons optrede as gelowiges behoort ook te getuig dat ons dit sien as geleentheid om God te verheerlik deur die wyse waarop ons uitreik na mense wat swaar getref word deur die gevolge van die inperkings of die dood van geliefdes. Terselfdertyd kan ons God verheerlik deur die verantwoordelikheid te aanvaar om alle voorsorg te tref dat ons die siekte versprei ander mense aansteek wat moontlik kan sterf.

Die Bybel leer ons dat God wel sonde straf waar ons ongehoorsaam aan sy gebooie is. Adam en Eva was in die Paradys ongehoorsaam aan God se bevel. God se straf was verbanning uit die Paradys, ‘n verbreking in die intieme verhouding met God, siekte, pyn en harde werk om ‘n bestaan te maak. Hierdie straf geld ook vir ons as hulle nageslag. Ons het die vermoë om tussen reg en verkeerd te kies en is van nature geneig om teen God te kies soos wat Paulus Rom. 7:19 kla “die goeie wat ek wil doen, doen ek nie maar die slegte wat ek nie wil nie, dit doen ek”. God het ons egter nie afgeskryf nie. Deur die eeue het Hy uitgereik tot gewone sondige mense deur hul uit genade te red ten spyte van ‘n swak geloof en ongehoorsaamheid. Uiteindelik het Hy na ons gekom om as mens die straf op ons sonde te dra sodat die wat glo gered kan word. Ten spyte van die sondige aard van die mensdom delg God ons nie uit nie vanweë sy algemene genade soos wat Jesus ons leer in die gelykenis van die onkruid tussen die koring wat nie voor die oestyd uitgetrek word nie (Mat. 13: 24 – 30).

Alhoewel God sonde vergewe moet ons die verantwoordelikheid vir die gevolge van ons verkeerde keuses aanvaar. Dit bring ons weer by ons reaksie op die Covid epidemie. Daarvan getuig my gewilligheid om die algemene beheermaatreëls te gehoorsaam en of ek bereid is om my te laat inent. As ek nie bereid is om alle moontlike stappe te neem om veilig te lewe en te voorkom dat ek ander aansteek, stel ek nie net my eie gesondheid en lewe in gevaar nie maar ook dié van almal met wie ek in aanraking kom. As ons om selfsugtige redes net wil doen wat gerieflik of aangenaam is sonder om ander in ag te neem dan is die liefde van Christus nie in ons nie en word God nie verheerlik deur ons getuienis nie.

Die Covid epidemie is dus nie ‘n straf vir ons sonde nie maar ‘n toets vir ons getuienis as Christene. Dit stel die uitdaging aan ons om uit liefde, ter wille van die welsyn van ons medemense, opofferings te maak wat getuig dat ons hul welsyn bo ons eie gerief of gemak stel.

No comments:

Post a Comment