Thursday, 9 February 2017

Oordenking - God se HEMELSE waarborge

Liewe Vyfhoek-gelowige,

Lees gerus hierdie oordenking.

GOD SE HEMELSE WAARBORGE

Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys. (Ef. 1:14)

Die slagspreuk van 'n bekende sake-instelling het op 'n stadium gelui dat hul goeie naam die waarborg is dat jy altyd hoë kwaliteit produkte by hulle sal kan aankoop. 'n Waarborg is inderdaad baie belangrik wanneer mens een of ander kosbare artikel soos 'n motor of 'n duur implement wil aankoop. Gewoonlik doen jy dan twee dinge: Eerstens betaal jy 'n deposito as bewys van die erns van jou voornemens om daardie item te besit. En tweedens verlang jy ook 'n waarborg van die verkoper dat die item of pro­duk wat jy aangekoop het wel van hoogstaande kwaliteit is.

Deposito's en waarborge is nie maar net besigheidsterme nie. Nee, Paulus vertel vir ons in Efesiers 1:14 dat dit ook godsdienstige begrippe is. Hy sê hier dat God twee baie belangrike dinge vir ons kom doen het. Hy het die Heilige Gees as waarborg en as deposito aan ons gegee om ons te verseker dat ons die hemelse troonsaal sal haal. Kan jy dit glo? God ag ons klein ou mensies so belangrik dat Hy, die Koning van alle konings, bereid is om 'n deposito op ons lewe te kom betaal. Dit is nou nie meer ons wat van ons kant af een of ander deposito aan God moet gaan oorbetaal vir die voorreg om sy kinders te mag wees nie. Nee, Hy het die rolle net mooi kom omruil met sy lewende deposito in ons lewe.

Die Heilige Gees is terselfdertyd ook die waarborg van God se kant af dat die res van die feesmaal vir ons aan die ander kant van die graf in die nuwe Jerusalem wag. Die vreugde en blydskap wat ons reeds hier op aar­de as God se kinders mag beleef, is maar net die begin. Die groot fees lê eintlik nog voor. En die Gees is die hemelse waarborg dat ons elkeen wat Jesus as die Here ken, daar sal aankom. God se waarborg is immers in sy Naam geleë.


No comments:

Post a Comment