Friday, 10 February 2017

Oordenking - Hoe lief het ek u Woord

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

HOE LIEF HET EK U WOORD

Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby. (Op. 1:3)

Toe Johannes die Openbaringboek geskryf het, het hy geweet dat hy sommer baie bevoorreg was om vir 'n wyle in die beheersentrum van die heelal, God se troonsaal, te kon ingaan. Boonop kon hy ook nog sien hoe­dat Christus uiteindelik met al die bose magte afreken. Hierna het God hom toegelaat om al sy ervaringe op skrif te stel en dit met ander mense te deel. Daarom skryf Johannes in hoofstuk 1:3 dat die lesers baie geseënd is om al hierdie woorde te mag lees. Dit bied immers ook aan hulle die ge­leentheid om God se troos te mag ervaar, maar ook om hulle lewe in orde te kry voordat dit te laat is.

Tot vandag toe word ons ook die geleentheid gebied om Openbaring, asook al die ander Bybelboeke, te mag lees. God sê dat dit 'n onuitspreeklike groot voorreg is; so 'n groot voorreg dat Hy ons selfs as geseëndes beskryf. Maar daar is tog 'n voorwaarde hieraan verbonde. Johannes sê dat ons al­les ter harte moet neem wat ons lees. Ons kan die Bybel nie maar haastig lees en dit daarna toeslaan en aangaan met ons lewe asof niks gebeur het nie. Nee, ons moet dit diep in ons hart wegbêre sodat ons ons lewe daarvol­gens kan inrig. Dan is ons presies op die plek waar God ons wil hê. Want dan kan sy Gees die Bybelse ink-en-papier-woorde met sy eie hand op ons hart oorskryf.

Beskou God jou ook as een van die geseëndes omdat jy sy Woord met jou hele hart liefhet? Leef jy ook vir daardie oomblikke dat jy die Bybel of een of ander geestelike boek kan lees? So nie, moet jy eenvoudig begin om tyd hiervoor te maak. Dit is deur en deur die moeite werd.


No comments:

Post a Comment