Friday, 3 February 2017

Oordenking - Omring deur 'n splinternuwe familie

Liewe Vyfhoek-gelowige,

Lees gerus hierdie oordenking.

OMRING DEUR ‘N SPLINTERNUWE FAMILIE

Julle is dus nie meer ver van God af nie maar medeburgers van die ge­lowiges en lede van die huisgesin van God. (Ef. 2:19)

Ons is oor die algemeen maar 'n klompie individualiste. Met ander woor­de, ons hou daarvan om self besluite oor ons eie lewe te neem, soos met wie ons wil vriende wees; watter beroep ons wil beoefen; met wie ons wil trou; en dies meer.

Hierdie sterk individualistiese streep wat die meeste van ons in ons het, is iets wat baie vreemd was in die Bybelse tyd. Die meeste mense was toe groepsgeoriënteerd. Met ander woorde, hulle was van mening dat individue altyd by die groep se reëls en regulasies moes inval, en nie andersom nie. Die vroeë kerk het ook by hierdie opvatting aangesluit. Daarom kon Paulus aan die Christene in Efese skryf dat hulle nou ook deel van God se groot nuwe huisgesin is, en dat hulle nie maar net 'n klompie losstaande persone is wat op hul eie in God moet glo nie.

God self staan natuurlik aan die hoof van hierdie nuwe familie van ge­lowiges. En binne sy familie is nie een van sy kinders ooit ver van Hom af nie. Hy het immers nie vir ons sy slawekwartiere gereed gemaak om in te bly nie, maar wel sy eie paleis. En hier bly ons as 'n nuwe huisgesin almal saam. Nie een van ons het 'n beter of 'n slegter plek gekry nie. Nee, voor ons Vader in die hemel is ons almal gelyk.

Christene is bloedfamilie van mekaar op grond van Jesus se soenoffer aan die kruis. Daarom moet ons ingesteldheid en optrede jeens mekaar dit ook weerspieël. Die Here het ons as gelowiges immers aan mekaar ge­gee sodat ons vir mekaar tot 'n seën en 'n vreugde kan wees.

In hierdie wêreld met at sy probleme en swaarkry het ons mekaar bit­ter nodig. Ons moet mekaar soos familielede van ons hemelse Vader behan­del deur mekaar te dien.


No comments:

Post a Comment