Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
As jou voete wil gly
Toe
ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met
baiee onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring. (Ps.
94:18, 19)
Alles is nie altyd negatief nie. 'n Geringe mate van
stres is selfs wenslik omdat dit jou op jou tone hou en in die hoogste
versnelling laat funksioneer. Maar wanneer dinge handuit ruk en dit voel of jy
nie langer in beheer is nie, kan jou stresvlak tot 'n onwenslike hoogte styg.
Een van die belangrikste oorsake van stres is juis dat
mense beheer oor hulle omstandighede verloor. Dan word hulle gespanne en
onrustig, dan "sit hulle met baie onrus in hulle binneste" soos die
psalmis dit so raak in ons teksvers beskryf. Hulle kan net nie meer byhou nie,
en in 'n desperate poging om dit desondanks reg te kry, raak hulle al hoe meer
agter en al hoe angstiger. Dan voel dit of hulle voete onder hulle uitgly, of
hulle nie langer op eie houtjie staande kan bly nie.
Is vandag vir jou so 'n voeteglydag? Gelukkig het jy
Iemand aan wie jy kan vashou. Iemand wat altyd daar is vir jou, wat jou baie
liefhet. God se vertroosting en liefde kan ook jou spanning ontlont. Alhoewel
jou geloof nie al jou probleme soos mis voor die son sal laat verdwyn nie, sal
Hy vir jou die insig gee om daardie probleme op 'n positiewe manier te hanteer,
sodat jy uiteindelik geestelik veel ryker anderkant gaan uitkom.
Wanneer jy weer gespanne is of depressief voel, lees
gerus hierdie psalm sommer 'n paar keer oor. Tien teen een sal jou
spanningsimptome verdwyn — nie omdat jou omstandighede verander of jou werklas
verminder het nie, maar omdat jy vir God as jou Trooster ontdek het.
No comments:
Post a Comment