Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Waarheen jaag jy?
Moet oor niks
besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en
met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe
gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus. (Fil.
4:6-7)
Een van die
oorsake van stres is dat jy jouself totaal ooreis omdat daar nog so baie materiële
dinge is wat jy graag wil hê. Jy plaas dus dag na dag onnodige druk op jouself,
omdat jy, soos die meeste van jou vriendinne, modern wil aantrek, jou kinders
na eksklusiewe skole wil stuur en allerlei luukse dinge in jou huis wil hê. Jy
werk oortyd omdat jy nóg beter vir jou gesin wil sorg, omdat jy 'n nuwe luukse
motor wil koop of jou vrou op 'n oorsese reis wil neem. En omdat jy in hierdie
werkdoolhof beland het, raak jy by die dag meer ooreis en gespanne.
Wil jy nie weer
gaan dink of al hierdie dinge waarvoor jy jou so afsloof werklik die moeite —
en die stres — werd is nie? Ware rykdom lê nie in die dinge wat jy besit nie.
Daar is so baie goeie dinge wat God vir jou gee wat nie met geld gekoop kan
word nie: jou gesin, jou gesondheid, jou lewe, jou talente, jou werk. Die dinge
wat jy reeds het, is tien teen een baie kosbaarder as al die dinge wat jy
begeer en waarvoor jy so hard werk.
Miskien het
dit tyd geword dat jy jou prioriteite sal regkry. Dat jy die belangrikste dinge
eerste sal stel. Dit is nie nodig om so te jaag na die dinge wat op die ou end
nie ewigheidswaarde het nie. Die Here weet watter dinge jy regtig nodig het. Hy
belowe in sy Woord dat Hy vir jou sal sorg. Jy hóéf dus nie oor enigiets
bekommerd te wees nie. Omskep eerder daardie dinge waaroor jy jou so bekommer
in gebede. Dan sal jy ontdek dat God vir jou sy vrede wat alle verstand te bowe
gaan in jou lewe sal gee. En vrede en stres kan nooit gelyk in een mens heers
nie.
No comments:
Post a Comment