Friday, 6 May 2016

Oordenking - Gooi jou laste af

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Gooi jou laste af

Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus ... (Heb. 12:1,2)

In Hebreërs 11 wys die skrywer vir ons 'n hele galery geloofshelde. Hy wil egter die aandag op die Here, wat op so 'n wonderlike manier in hulle lewe gewerk het, vestig. In Hebreërs 12 kom die skrywer nou met 'n kragtige oproep. Hy vergelyk die lewe met 'n atletiekwedloop. Sy bedoeling is om te sê dat ons moet volhard in die geloof. Ons moet die voorgeslagte se geloof en geduld navolg.

Daar kan dus geen twyfel wees nie: geloof en volharding gaan saam. Stel jou net die stadion met die volgepakte pawiljoene voor. Die geloofshelde wat in hoofstuk 11 genoem is, sit almal daar. Hulle is nie alleen 'n geweldige groot getal nie, hulle vorm 'n eenheid. En hulle getuienis is eenstemmig: "Ons het die wedloop met volharding gehardloop en dit met eer voltooi deurdat ons enduit gelowig volgehou het!"

Dit is ook wat van ons verwag word. Ons moet die wedloop wat voorlê met volharding hardloop, sodat ons die wenstreep kan bereik.

Daar is egter twee basiese vereistes: Ons moet onbelemmerd kan hardloop en ons moet 'n vaste mikpunt hê. Daarom moet ons elke las afgooi wat ons kan verhinder om die wenstreep te bereik. Veral die sonde, sê die Hebreërskrywer. En ons vaste mikpunt is: Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

Wat is die dinge wat jou verhinder om voluit die wedloop van die ge­loof te hardloop? Is dit 'n skewe selfbeeld, 'n persoonlikheid wat nie geba­lanseerd ontwikkel het nie, of dinge in die verlede wat jou terughou? Gooi dan hierdie laste af. Span jou in met alle krag, en vestig jou oog op Jesus Christus. Wil jy nie sommer vandag daarmee begin nie?


No comments:

Post a Comment