Friday, 27 May 2016

Oordenking - Moedeloosheid is onnodig

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Moedeloosheid is onnodig

Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. (2 Kor. 4:16-17)

'n Tydelike siekte is baie makliker om mee saam te leef as 'n kroniese een. As ons weet dat iets 'n end gaan kry, is dit baie makliker om te ver­werk as 'n stuk moeilikheid waarvan die einde nie in sig is nie, en wat vir ons lyk of dit vir altyd sal aanhou. In so 'n geval is die versoeking groot om in depressie te verval.

As daar 'n probleem in jou lewe is wat al baie lank aanhou, as jy herhaal­delik daaroor gebid het en nog nie 'n antwoord gekry het nie, kan jy gerus vandag na Paulus luister: niks hou vir altyd aan nie — nie jou huidige stres­vlak of depressie nie, ook nie jou probleme en krisisse nie. Hierdie dinge sal weer verbygaan — al voel dit vandag vir jou of jy nie 'n tree verder kan nie, probeer dus nog 'n rukkie vasbyt dalk is jou probleem waaroor jy op die oomblik so gespanne is, môre al iets van die verlede.

Wanneer dit baie sleg met jou gaan, kan jy God se beloftes vir jou in sy Woord weer 'n slag onderstreep. En onthou altyd om op te kyk na God, in plaas van rondom jou na jou probleme.


Alhoewel dit nou vir jou mag voel of jy nooit weer hierdie gevoel van nutteloosheid en hopeloosheid wat dreig om jou te oorweldig, sal kan af­skud nie, vertrou op God. Jou swaarkry van die oomblik is net tydelik, en eendag sal dit vir jou uitloop op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig is, soos ons teksvers beloof. Jy kan jou pyn en seerkry, jou angs en spanning dus nog 'n rukkie uithou, omdat jy die versekering het dat dit nie vir altyd sal aanhou nie.

No comments:

Post a Comment