Friday, 20 May 2016

Oordenking - ‘n Feeslewe kan joune wees

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

‘n Feeslewe kan joune wees

Dit gaan altyd sleg met 'n bedrukte mens; die blymoedige mens se hele lewe is 'n fees. (Spr. 15:15)

Miskien is vandag se teksvers die allerlaaste ding wat jy wil hoor as jy moedeloos en depressief is. Daar is alreeds baie mense wat aanhou om vir jou te sê dat alles vir jou goed sal uitwerk of dat elke donker wolk 'n sil­wer randjie het. En dit terwyl jy net donkerte voor jou kan sien, terwyl jou selfbeeld by die minuut krimp, terwyl al waarvoor jy op die oomblik lus is, is om jou kop soos 'n volstruis in die sand in te druk.

Miskien het dit tog tyd geword dat jy weer sal leer om te lag. Om al die snaakse dinge om jou raak te sien en te geniet. Hoe die wêreld vir jou lyk, hang baie daarvan af met watter oë jy na die wêreld kyk. Om te lag is vir jou medisyne — gratis medisyne wat jou net goed kan doen, en 'n gesonder mens van jou sal maak.

'n Oosterse wysgeer het duisende jare tevore al gesê: 'n Mens is wat jy dink. Wil jy nie probeer om van vandag af 'n doelbewuste poging aan te wend om meer te lag en positief te dink nie? As jy sal onderneem om van nou af spesiaal op te let na alles wat 'n glimlag werd is, sal jy weldra ont­dek dat jy so effens beter voel. Vra vir die Here om al daardie negatiewe gedagtes wat so gedurig op jou afstorm, gevange te neem en dit aan Christus gehoorsaam te maak (vgl. 2 Kor. 10:5). En jy sal sien: kort voor lank gaan jy nie meer kromgetrek deur neerslagtigheid deur die lewe gaan nie, binne­kort gaan die lewe weer vir jou 'n fees wees! Is jy bereid om die medisyne te probeer?


No comments:

Post a Comment