Friday, 6 May 2016

Oordenking - Jou verantwoordelikheid

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Jou verantwoordelikheid!

Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe. (Fil. 2:12)

Daar is baie dinge wat in 'n mens se verlede lê en wat jou ontwikkeling kan belemmer. Die Bybel het vir ons op verskillende maniere raad oor hoe 'n mens sekere dinge kan oorkom, en hoe jy ander dinge kan bereik.

Een ding is duidelik: ek en jy het 'n persoonlike verantwoor­delikheid. In die teksgedeelte sê Paulus dat ons ons met eerbied en ontsag daarop moet toelê om as verloste mense te lewe. Ons maak dikwels die fout dat ons reken as 'n mens in die oggend Bybel ge­lees het en gebid het, jy reg is vir die dag wat voorlê. Dit is waar dat die Bybel die atmosfeer in 'n mens se gemoed stel. Paulus beklemtoon egter dat 'n mens se verantwoordelikheid nie daarmee ophou nie.

Dit is dikwels so dat ons gehoorsaam so lank as wat ons geestelike leiers in sig is. Dit is mos nou maar net eenvoudig makliker as iemand jou herinner aan wat jy behoort te doen en wat nie. Persoonlike verantwoorde­likheid hou egter nooit op nie. Juis wanneer 'n mens alleen is, moet jy jou aandag voluit op Christus rig, sodat jy nie op 'n dwaalspoor gebring word nie. Jou lewe moet te alle tye wys dat jy 'n verloste Christen is.

Hou dan ook op om negatiewe ervarings uit jou verlede soos swaar blokke met jou saam te sleep. Hou op om jammer te wees vir jouself en ander mense te verwyt. Neem ook jou geestelike verantwoordelikheid op en lê jou met eerbied en ontsag daarop toe om as 'n verloste mens te lewe. Niemand anders gaan dit vir jou doen nie.

Koester hierdie versekering in jou hart: God het deur sy Gees in jou hart kom woning maak om sy beloftes aan jou te laat waar word. Jy is dus nie alleen nie. Die Here is by jou deur sy Gees. Hy stel jou in staat om as 'n verloste mens te lewe — ook op hierdie dag wat voor jou uitstrek.


No comments:

Post a Comment