Friday, 30 November 2018

Oordenking - Wat is God se wil in my lewe?


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Wat is God se wil in my lewe?

Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is (Rom 12:2)

Dit is maklik om te praat oor die wil van God, maar dit is iets heel anders om sy wil te ken en dit te doen. Sommige toegewyde kinders van die Here het 'n besondere verhouding met die Here en daar is by hulle hoegenaamd geen twyfel oor wat sy wil vir hulle is nie. Ander weer is net so toegewyd, maar dit lyk asof hulle in 'n doolhof van onsekerheid leef oor wat die wil van God vir hulle lewe is.

As jy besig is om te soek na God se wil vir jou, staak vir 'n wyle jou soektog. Bid dat God jou "denke sal vernuwe". Konsentreer jou denke en gemoed op Hom. Jy moet God ken voordat jy sy wil kan ken! Dan eers kan jy sy weg ken en Hom gehoorsaam wees.

Maar bo alles moet jy Hom van harte liefhê. Liefde is die sleutel wat die poort na sy pad vir jou ontsluit. Ontwikkel 'n steeds toenemende liefde vir Hom. Dit gee 'n mens soveel vertroue om te weet dat, hoe groot my liefde vir Hom ook al mag wees, sy liefde vir my altyd groter is.

Wanneer liefde vir die Meester en onwrikbare vertroue in Hom jou denke beheers en jou geestelike sensitief maak vir sy leiding, word sy wil aan jou ontvou.

Wag gedulig en biddend wanneer jy twyfel oor wat God se wil vir jou is. God skenk leiding aan hulle wat nie ongeduldig raak nie.

Getroue Leidsman, deur liefde en vertroue soek ek u heilige en volmaakte wil vir my lewe. Laat u Heilige Gees vryelik in my werk.

Friday, 16 November 2018

Oordenking - God het 'n pad


GOD HET 'N PAD
Ek wil jou onderrig en jou die pad leer wat jy moet volg. Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou (Ps 32:8)
God het reels neergele wat jou lewe moet beheers. As gehoorsame kind van God moet jy daarna streef om aan God se hand volgens die lewens­reels wat Hy in sy Woord bepaal het, te wandel.
God is 'n God van orde en nie van chaos nie. Die verwarring van die mensdom vandag is die direkte gevolg van ongehoorsaamheid aan God se wette. Wanneer jy jouself volkome in God se hande plaas en sy wil vir jou lewe soek, sal jy ontdek dat jou geestelike lewe toeneem in diepte en stabiliteit. Jou plig is om hiertoe mee te werk deur Bybelstudie, gebed en bepeinsing.
Geleidelik leer jy God beter ken en laat jy Horn toe om jou lewe steeds meer te beheer sodat sy wil in jou lewe duidelik kan word. Dan loop jy op die pad wat Hy vir jou uitgestip het.
Aanvanklik mag God se doel nie so duidelik sigbaar wees nie en jy sal in die geloof moet voortwandel. Aanvaar jy egter onwrikbaar die heer­skappy en leiding van jou hemelse Vader, sal jy die toekoms met onbe­grensde vertroue tegemoetgaan. Jy sal sterk staan in die oortuiging dat God jou lei en oor jou waak.
Liefdevolle God en Vader, leer my u wil vir my lewe ken, sodat ek gehoor­saam en blymoedig u pad kan bewandel.



Friday, 9 November 2018

Oordenking - Die Toekoms word deur die hede bepaal


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

DIE TOEKOMS WORD DEUR DIE HEDE BEPAAL

Dink aan jou Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek waarvan jy sal sê: "Ek het daar niks aan nie" (Pred 12:1)

As jy vandag onwaardige gedagtes koester en 'n lewe van bedrog ly,
moet jy nie verwag om vrede en waarheid en voorspoed te ondervind in die dae wat voorlê nie.

Die wet van oorsaak en gevolg is selfs vir die kinders van die Here onverbiddelik. Jy kan nie negatiewe gedagtes saai om positiewe dade te oes nie. Baie mense leef nie, maar bestaan slegs. Hulle koester die ydele hoop dat op die een of ander manier, iewers in die toekoms, die lewe aan hulle vervulling en vreugde sal skenk. Jou toekomstige geluk hang direk of van hoe jy vandag dink en wat jy vandag doen. Die hede is 'n produk van die verlede en ook besig om jou toekoms te bepaal.

Vandag is werklik die belangrikste dag in jou lewe. Daarom behoort jy elke dag jou potensiaal tot die maksimum te benut. So lê jy 'n stewige fondament vir die toekoms. So skep jy gelukkige herinneringe vir die dag wanneer vandag jou verlede is.

Dan benader jy die toekoms positief en met die lewende Christus as middelpunt van jou denke en emosies, begin jy skeppend en onderne­mend te lewe. Jou toekomsbenadering is gelowig, dinamies en positief.

Here, help my om vandag te gebruik om te bou vir die toekoms en lei my deur u Heilige Gees.


Friday, 2 November 2018

Oordenking - Evaluering van due beste


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Evaluering van die beste

Lê julle toe op die beste genadegawes (1 Kor 12:31)

Dit is net natuurlik om die beste wat die lewe bied te begeer. Dit is egter lewensbelangrik om te weet wat die "beste" is; om nie onbewus 'n sub­stituut te aanvaar of om met die tweede beste tevrede te wees nie. Mense streef dikwels na 'n doel wat na hulle mening vir hulle die beste is, terwyl God vir hulle iets beters en edelers bedoel het.

'n Vals sin vir waardes laat jou dikwels na die tweede beste gryp. Dan maak jy die denkfout om rykdom as belangriker as 'n edel karakter te beskou, om te ontvang beter as om te gee; om te glo dat jy uit die lewe moet haal wat jy kan sonder om enigiets in te sit; om te beweer dat die doel die middele heilig; om te dink dat net dwase liefdesdiens verrig.

Om te weet wat vir jou die beste is, moet jy jouself ken. Jy moet weet wat jy kan, wie jy is en wat jou potensiaal is. Dit verg moed van 'n beson­dere kwaliteit om jou eie tekortkominge nugter te sien en te erken; om jou foute te verstaan en te bely; om beslis te wees om volgens God se norme doelstellings te stel: eerlikheid; liefde; reinheid en onselfsugtigheid.

Jy sal nie altyd daaraan kan voldoen nie, maar dit sal so 'n impak op jou lewe hê dat jy sal uitvind dat God se beste vir jou alles oortref wat jy vir jouself kan begeer.

Gee my die wysheid, Here Jesus, om alleen met die beste tevrede te wees, deur te streef na u waardes en beginsels.


Friday, 19 October 2018

Oordenking - Unieke skepping van God


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking en bepeins die vraag aan die einde.

UNIEKE SKEPPING VAN GOD

Wie weet, miskien is dit juis met die oog op 'n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het (Est 4:14)

"Wie is ek?" is 'n vraag wat jy nie kan ontwyk nie en wat jy van jou jeug tot jou gryse ouderdom sal vra. Jy is skepping van God; na sy beeld het Hy jou geskape — al is die beeld dan deur die sonde geskend. Jy is Koningskind; prins of prinses, en jy word geroep om waardig hierdie koninklike kindskap uit te leef.

Jy is uniek — God maak nie duplikate nie. Wetenskaplikes beweer dat geen twee blare aan 'n boom dieselfde is nie; hoeveel te meer sal God nie aan sy kinders 'n eie identiteit, aard en persoonlikheid gee nie? Geen mens op aarde kan jou plek inneem nie. Daarom mag jy jou nooit laat verswelg deur die naamlose, gesiglose, identiteitslose massa nie.

Die opdrag om jouself te wees is nie 'n vrypas vir hoogmoed of self­verheffing nie, maar genade van God en 'n oproep om waardig en met selfvertroue te lewe. Jy hoef nie iemand anders se lewenstyl na te boots nie. Christus is jou voorbeeld.

'n Praktiese geloof in Jesus Christus lei tot die ontdekking van jou ware self. Vals hoogmoed; minderwaardigheid wat jou geestelike groei vertraag; onsuiwere waardes wat jou lewensperspektief belemmer — dit alles word oorwin en gesuiwer deur die krag wat Christus jou skenk.

Ek word aanbiddend stil voor U, Here Jesus, sodat U my deur u Heilige Gees kan leer om myself te wees.

Friday, 12 October 2018

Oordenking - Gryp die dag


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

GRYP DIE DAG!

Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom (Ps 90:12)

Vandag is 'n onbeskryflike gawe van God aan jou. Alles sal natuurlik nie voorspoedig verloop nie en jy sal nie noodwendig vry wees van versoe­kings en beproewings nie. Maar as jy met dankbaarheid die gawe van die Skepper aanvaar, sal jy ook bewus word van sy genade in jou lewe. Hy maak die ongelyke plekke glad en die krom paaie reguit.

Jy kan jou jare tel volgens die syfer of volgens die inhoud daarvan. Volgens die inhoud kan 'n lang lewe kort wees en 'n kort lewe lank. 'n Lang lewe wat leeg is aan geloof, seën vir ander, liefde, arbeid en ge­nade, kan kort wees as God sy meetsnoer daarlangs lê. Dit is hoe ek elke oomblik van elke dag benut wat bepaal wat die kwaliteit van my lewe is.

In sy onmeetlike genade laat God dit aan jou oor om te besluit hoe vandag sal wees. Moontlik het jy reeds met vrees en bewing gedink aan al die dinge wat verkeerd kan loop; die teenspoed wat jou kan inhaal en die rampe wat net om die draai wag. Miskien begin jy alreeds moedeloos en terneergedruk voel voordat die dag begin het. Hierdie soort gedagte­patroon is teenproduktief en laat jou saam met Job sê: “Wat ek gevrees het, het oor my gekom; waarvoor ek bang was, het my getref” (Job 3:25).

Vertrou op die Here en dank Hom vir elke nuwe dag.

Here, dankie vir die voorreg om hierdie nuwe dag tot u eer te gebruik en dit met ander te deel. Dankie dat my tye in u hand is.

Friday, 5 October 2018

Oordenking - Produktiewe gebed


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Produktiewe Gebed

Die arm van die Here is nie te kort om te help nie en sy oor is nie te doof om te hoor nie (Jes 59:1)

Vir baie kinders van die Here verloop gebed en bepeinsing haastig en onproduktief. Dit word dikwels beskou as dissiplines van die gees wat alleen beoefen word as jy genoeg tyd daarvoor het — 'n soort assuransie teen ramp en ongeluk.

Gebed is om God se wil vir jou lewe te ontdek en nie om die wil van God te buig om by jou begeertes aan te pas nie.

Voordat die seën van gebed jou ryke besit kan word, moet die tegniek van gebed gekweek en getrou beoefen word.

Dit is waar dat jy in enige situasie kan bid. Dit is ongetwyfeld ook waar dat enige taak wat konsensieus afgehandel word, 'n vorm van gebed is. Dit is moontlik om in die krioelende stadsverkeer deur 'n stil gebed van God se teenwoordigheid bewus te word.

Maar tyd wat in stilte en alleen met God deurgebring word, is die fondament van gebed.

Na so 'n tydjie in die verborge saam met God, gaan jy kalm en ewe­wigtig die lewe tegemoet. Die morele keuses van die lewe word duideli­ker omlyn en jy het 'n meer besliste bewussyn van die leiding van God in jou lewe. Jy het die vertroue om enigiets te hanteer wat die dag mag oplewer en jy wandel met blymoedigheid op jou lewenspad.

Here, laat niks my beroof van die kosbare tyd wat ek met U alleen kan deurbring nie. Ek vra dit deur Jesus Christus, wat my Voorspraak by U is.


Friday, 28 September 2018

Oordenking - 'n Gewillige oor


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

‘n Gewillige oor

. . . dit moet julle in gedagte hou: elke mens moet maar te gewillig wees om te luister (Jak 1:19)

'n Wyse man het gesê: "'n Mens het twee ore en een mond sodat jy twee maal soveel moet luister as wat jy praat." Die meeste mense vind dit makliker om te praat as om te luister. Hulle voel verleë in oomblikke van stilte en probeer dit vul met niksseggende woorde. As ons nie mekaar se stiltes verstaan nie, sal ons ook nie mekaar se woorde verstaan nie.

Die Skrif leer ons dat daar 'n tyd is om te praat en 'n tyd om stil te bly. Om die fyn ewewig hiervan te ontdek en toe te pas, is ware wysheid. Om maar net stil te wees, is nutteloos. Ons moet konstruktief stil wees en dit beteken om intelligent en begrypend te kan luister.

Dit geld veral in ons verhouding met God. Gebed is nie 'n monoloog van my kant nie. Ek moet leer om na God te luister sodat my gebed 'n opheffende en besielende tweegesprek tussen my en my God word. As jy die vermoë ontwikkel om in die stilte na God te luister, sal jou innerlike oor sy stem opvang en jy sal gereeld en met verwagting pleit: "Praat, Here, u dienaar luister" (1 Sam 3 :10). Sy wil vir jou lewe sal duidelik word en jy sal meer en meer gevoelig word vir sy stem. Met God in die stilte, hoor 'n mens wonderlike dinge, as jy maar net gewillig is om te luister.
Here, dankie vir u Heilige Gees wat my leer om te luister. Laat my u stem herken wanneer ek U in die stilte ontmoet en laat die luister na U my hoogste vreugde wees.


Friday, 21 September 2018

Oordenking - Selfvertroue


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Selfvertroue

U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon (Ps 8:6)
                                                                         
Die Bybel leer op baie plekke dat hoogmoed en verwaandheid sonde is voor God. Maar 'n mens kan ook na die ander kant toe sondig: jy kan te min van jouself dink. Jy vergelyk jouself so maklik met ander en dink: Ek is nie so slim nie; ek is nie so  sterk nie — of so mooi, so begaafd soos daardie persoon nie.   
Sonder selfvertroue kan geen mens positief en konstruktief leef nie. Jy kan nie jou Godgewilde taak uitvoer nie.   

Dink maar aan Josua wat die byna bomenslike taak gekry het om God se volk te lei ná Moses se dood. Hoe sou hy die volk kon aanvoer as hy hom gedurig met sy voorganger, die imposante Moses, vergelyk het. Hoe sou hy die volk die beloofde land kon inlei as hy net altyd gedink het: Ek is nie so 'n groot figuur soos Moses nie. Hy was 'n leier, 'n profeet, 'n Godsman soos daar nog nie voor of ná hom was nie. Hoe kan ek, Josua, in sy skoene staan?

Maar God het hom gedurig aangemoedig: Wees jy net sterk en vol moed...

Dit moet vir enige mens rede tot selfvertroue wees — nie omdat hy dink hy is so besonders nie, maar omdat hy glo dat God self sy taak aan hom gegee het. Daarmee saam gee Hy ook die krag en die moed en die selfvertroue om dit uit te voer: "Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie" (Ps 18 : 30).

Barmhartige Vader, wys my deur u Heilige Gees wat my taak is en gee my in genade die vertroue om dit tot u eer uit te voer.


Friday, 14 September 2018

Oordenking - 'n Heerlike waarheid


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

‘n Heerlike waarheid

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die
krag sal gee om innerlik sterk te word (Ef 3:16)

Die rykdom wat 'n lewe in God bied, oortref jou wildste verwagtings. Wanneer jy voel dat jy tot oorlopens toe vervul is met sy liefde, vrede en krag, krap jy nog maar aan die oppervlakte van die goudaar van sy genade.

Die enigste ding wat jou kan weerhou van 'n ryker ervaring met God, is jou eie onvermoë om dit te ontvang. Die grootste gawe wat jy van God kan ontvang is 'n steeds groeiende hunkering na Hom. Dit klink soos 'n teenstelling: as jy God ken, ervaar jy sy volheid, en juis in hierdie vervulling setel die begeerte om Hom steeds beter en meer intiem te ken. Dit is wat die Gees van God in jou lewe doen.

Dit is nie maar net 'n vlietende emosie wat op jou neerdaal wanneer jy godsdienstig voel nie. Dit is 'n konkrete daad van geloof in die krag van die inwonende Gees van Christus juis wanneer dit voel asof die lewe dreig om uitmekaar te val.

Jy moet jouself gedurig daaraan herinner: “Christus leef deur sy Gees in my!” Mettertyd sal jy volkome sekerheid hê en vanuit sy krag leef. Daar lê jou innerlike krag en sterkte. Loof die Here daarvoor.

Hoe sal ek U ooit genoeg dank, Here, dat u Gees in my kom woon het. Gee dat ek dit sal laat blyk in die omstandighede waarin ek leef en werk.


Friday, 7 September 2018

Oordenking - Geestelike ondervoeding


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Geestelike ondervoeding

Wat help dit 'n mens as hy die wêreld as wins verkry, maar homself verloor of te gronde gaan (Luk 9:25)

Elke mens wil graag iets met sy lewe bereik; hy wil die bevrediging smaak dat hy nie verniet gelewe het nie. Daarom stel hy vir homself doelwitte en werk met die inset van al sy kragte vir die verwesenliking van dit wat hy as essensieel vir sy sukses beskou.

Hy versamel alles wat geld en sosiale prestige hom kan bied: 'n steeds groeiende inkomste verhoog sy gevoel van sekuriteit; vriende wat hom kan help om sy doelstellings te bereik en aan hom toegang verleen tot die regte sosiale kringe, word vir hom steeds belangriker.

Desnieteenstaande gebeur dit so dikwels dat mense wat alles bereik het en oorlaai is met die goeie dinge wat die lewe kan bied, nog onverge­noegd is. Hulle word toenemend bewus daarvan dat hulle iewers iets van kardinale belang misgeloop het. 

Wanneer besittings en alles waarvoor materialisme staan, vir 'n mens belangriker geword het as God; wanneer stoflike dinge vir jou belangri­ker geword het as geestelike waardes; wanneer 'n balansstaat belangri­ker is as integriteit en eerlikheid; dan ly jy aan geestelike ondervoeding.

Geen mens wat God uit sy lewe weglaat, kan waarlik suksesvol wees nie. Maar as jy geestelik ook groei tot volwassenheid in Christus, leer ken jy die ware betekenis en doel van die lewe.

Dankie, Here Jesus, dat U dit moontlik gemaak het dat u Heilige Gees sin en betekenis aan my lewe gee en my die vermoë gee om die dinge te onderskei dit werklik aankom.

Friday, 31 August 2018

Oordenking - Medewerker van God


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

MEDEWERKER VAN GOD

Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer (Fil 2:12-13)

Dit is 'n oorweldigende gedagte, tog vol van inspirasie en besieling: ­God werk in jou! Die uitdagende vraag is of jy met Hom saamwerk en of jy in sy pad staan?

Jy mag vaagweg bewus wees van jou lewensdoel, maar dit mag net nie sterk genoeg wees om op die uitgestippelde pad te loop wat God beplan het nie. Dan leef jy 'n lewe volgens eie wil en keuse en nie na die wil van God nie. Hierdie selfgekose pad lei noodwendig na ontevre­denheid en frustrasie. Jy ploeter voort in eie krag op 'n pad wat jou eie blinde hart beplan het, meer bewus van die neerlae as van glorieryke oorwinnings. Die lewe self verloor sy glans en verval in 'n vale alle­daagsheid.

Wanneer jy met oortuiging erken dat God in jou werk, en jy onwrik­baar besluit om aan Hom gehoorsaam te wees in alle sake, word jy 'n medewerker van God in die kuns om te lewe. As dit gebeur, vind ongelooflike en onverwagte dinge in jou lewe plaas. Wat voorheen struikel­blokke was, word nou skielik geleenthede op jou pad wanneer jy aan God se hand die toekoms inbeweeg.

Here Jesus, Leidsman en Voleinder, gee aan my toewyding, oorgawe en
'n gewillige oor vir u bevele, sodat ek voortdurend u wil vir my lewe sal ken.


Friday, 24 August 2018

Oordenking - Vertrekpunte na môre


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

VERTREKPUNT NA MÔRE

Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan (Gen 28:15)

Vandag is 'n beginpunt, 'n vertrekpunt! Die beslissings wat jy vandag maak, kan al die mores van jou lewe beïnvloed. Dit is alleen wanneer jy 'n suiwere waardebepaling van elke afsonderlike dag maak, dat jy kon­struktief vir die toekoms kan bou. Hierdie soort bouwerk vereis 'n plan. Dit is noodsaaklik dat jy doelwitte in die lewe sal hê om jou daarvan te vrywaar dat jy 'n reisiger na nêrens word.

As jy 'n lewe wil leef wat die moeite werd is, moet jou ideaal of doelstelling groot genoeg wees om as uitdaging te dien om bo jouself uit te styg en dit doelgerig na te streef. Moenie vrees om iets nuuts en moeiliks aan te pak nie. Dit is die enigste pad waarlangs jy bevrediging sal ken en wat jou geestelik sal versterk en laat groei in geloofsoortuiging.

Jou elkedagse taak skep vir jou onbeperkte geleenthede om jou geloof in 'n altyd-teenwoordige God te beoefen. Dan word jou taak, hoe nederig ook al, 'n roeping.

Jou geloof word dan 'n praktiese werklikheid wanneer jy God se wil na streef daar waar Hy jou geplaas het. Dan is dit nie maar net 'n emo­sie wat vir Sondae gereserveer word nie. Dit motiveer jou om al jou talente in sy diens te stel. Daarby leef jy in die wete dat Hy jou sy bystand en beskerming vir elke dag belowe. Dan leef jy elke dag met God, vir God!

Leer my daagliks om u wil te doen en u pad te loop, goeie Meester, sodat ek my plig met vreugde sal doen en u doel met my lewe sal bereik.