Thursday, 7 November 2019

Oordenking - Breekbaar, hanteer versigtig

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Breekbaar, hanteer versigtig

Hulle wat geweld en verwoesting in hulle mooi huise herberg, weet nie hoe om reg te doen nie, sê die Here. - Amos 3:10

Opbou is die hartklop van ons liefde-aangedrewe verhoudings met ander gelowiges. Ons moet onsself as proaktiewe bouers in hulle lewens sien. Ons boumateriaal is daardie gawes wat die Gees aan ons gegee het. Ons moet in ander gelowiges wat oor ons pad kom 'n stukkie bouwerk doen sodat hulle die Here met nog groter toewyding sal dien. Deur ons opbouende woorde; ons gebede; ons geloof; ons leierskap; ons onderrig; ons wysheid; ons onderskeidingsvermoë; ons vermanings, of watter ander gawes die Here aan ons gegee het, moet ons belê in hulle lewens. Maar dan mag ons dit nie sien as take wat ons moet uitvoer nie. Ons moet ander gelowiges as unieke mense in eie reg sien en hulle met respek behandel. Ons moet hulle geloof sterk maak sodat hulle nog groter hoogtes in God se diens kan bereik.

Het jy al opgemerk dat daar op sekere houers die woord "Breekbaar" staan. Soms staan daar nog twee ander woorde hierby: "Hanteer versigtig." Ek wonder hoekom ons sulke woorde op lewelose houers plaas, maar nooit op lewende mense nie. Mense is ewe breekbaar as al daardie glasware wat veilig in sulke houers verpak word. Dinge soos misdaad, siekte en verhoudings wat op die rotse geloop het, breek mense. Dis hoekom die Here ons as lewende geskenke aan mekaar gegee het. Ons moet mekaar se wonde help verbind en die laste van mekaar se skouers aftel. Ons moet veilige skuilplekke wees vir mekaar. Dit is die Here se doel dat sy kerk op aarde 'n genesende gemeenskap moet wees waar sagtheid, opbou en liefde voortdurend wen. Stukkendes moet hier ontdek dat ander mense daardie plakker op hulle raakgelees het wat sê: "Breekbaar. Hanteer versigtig." Hulle moet in dieselfde asem beleef dat mense dit ook doen.

Friday, 1 November 2019

Oordenking - Bou in ander se lewens


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.


Bou in ander se lewens

Die een wat ongewone tale of klanke gebruik, bou net homself op, maar die een wat profeteer, bou die gemeente op.(1 Korintiërs 14:4)

Die Here se merkteken vir goeie verhoudings; daardie soort wat op agape-liefde geskoei is, is opbou. In 1 Korintiërs 14 vertel Paulus dat die belangrikste gawes van die Heilige Gees juis daardie is wat ons help om ander se geloof op te bou. Die doel van die Gees se gawes is om ons te laat wegkyk van onsself. Ons is deur die Here omskep om ander se geloof te versterk en hulle lewens nog duideliker op God se roete te rig. Opbou is die basiese onderbou van alle gesonde verhoudings volgens God. Ons het al gesê dat goeie verhoudings begin wanneer ons die keuse maak om oop en beskikbaar te wees vir ander omdat ons hulle as beelddraers van God begin raaksien, sê ons vandag vir mekaar dat goeie verhoudings is om ander se geloof te help opbou.

Opbou is 'n aktiewe, doelbewuste ingesteldheid aan ons kant. Dit vra dat ons mekaar as bouwerke van die Almagtige sien. Maar dan moet ons besef hulle is onder lewenslange konstruksie. Die Here se werk in ander rondom ons is nog lank nie klaar nie. Deur sy Gees as Meesterbouer versier Hy hulle lewens. Maar Hy ge­bruik mense hiervoor, mense soos ek en jy. Hy vra van ons om ander gelowiges tot sy eer te help vorm. Hoe? Deur net daar te wees vir hulle. Deur oop te wees vir hulle. Deur hulle as beelddraers en onvoltooide bouprogramme van die Here te sien. As ons dit doen, verander ons ingesteldheid jeens hulle vanaf foutvinderigheid en hooghartigheid na konstruktiewe betrokkenheid. Dan kyk ons nie van bo op hulle neer nie. Nee, dan kyk ons op na hulle. Van dan af is ons woorde nie gevaarlike wapens nie, maar goeie medisyne. Dan bemoedig, vertroos en vermaan ons hulle met die liefde van Christus.

Friday, 25 October 2019

Oordenking - Om daardie moeilike grens na ander oor te steek

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.


Om daardie moeilike grens na ander oor te steek

So het julle 'n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. — 1 Tessalonisense 1:7

Ons praat baie oor verhoudings as uitdrukking van God se wil. Dit kan jou dalk laat voel jy skiet tekort, veral as jy meer taak-georiënteerd is as ander mense. Mens-georiënteerde mense kom maklik met ander oor die weg. Dit gebeur spontaan. Maar wat van die wat introverte is en nie so maklik met ander mense sosialiseer nie? Is hulle gedoem tot geestelike mislukking? Nee, genadiglik nie. Daar is darem nie net een bloudruk vir die regte verhoudings nie. Goeie verhoudings is nie gelyk aan hand om die lyf loop met elkeen wat jou pad kruis nie. Dit is nie om elkeen se beste vriend te probeer wees nie. Of om nooit konflik te hê nie. Inteendeel. Verhoudings is om daagliks een belangrike keuse uit te oefen en dit is om na buite, na ander mense toe, te leef. Verhoudings begin met 'n keuse vir openheid. Dit is gelyk aan 'n keuse om sensitief vir mense te wees. Gesonde verhoudings wat Christus tot eer strek en ander dien en opbou, vra 'n doelbewuste keuse om nie soos 'n verlate eiland deur die lewe te gaan nie.

Goeie verhoudings vra om goeie keuses aan my kant. Dit vra dat ek gedurig sal onthou die lewe gaan nie oor myself nie. Ek is geseën om ander te seën. Ek is gered om tot heil van ander te leef. Ek staan in 'n verhouding met Christus wat verder moet uitkring. Ek moet my geestelike radarstelsel elke dag instel op ander mense en hulle raaksien as unieke mense in eie reg en nie as blote objekte nie. Ek moet hulle begin sien as beelddraers van God, selfs al het die sonde hulle bekrap en beskadig. As dit gebeur, verskuif iets binne-in my. Dan gaan my hart oop. So begin die regte verhoudings!

Friday, 18 October 2019

Oordenking - Van monument-bouers tot God se wil-doeners


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.


Van monument-bouers tot God se wil-doeners

Noual ontvang die man wat oes, sy loon en samel Hy die oes in vir die ewige lewe. So is die een wat saai, en die een wat oes, saam bly. Johannes 4:36

Daar is 'n advertensie wat lui: "No one ever built a monument to a committee!" Toe ek vir 'n paar mense hiervan vertel, sê iemand vir my: "Wel, by ons kerk is daar baie monumente vir komitees." Ja, sinvolle komitees is ook nodig, maar om gedurig te vergader bloot omdat dit op 'n kalender staan, is uit. Die kerk is die familia Dei, die aardse familie van God. Soos in enige gesonde familie kyk hulle mekaar in die oog en vertrou mekaar se woord. Hulle doen die lewe saam; daarom hoef hulle mekaar nie gedurig deur middel van vergaderings en kommissies te kontroleer nie.

'n Groter gevaar agter daardie eindelose vergaderings is dat dit die fokus kan verskuif weg van God se wil en van die noodsaak van nuwe verhoudings. Mense kan ure lank besig wees in sy koninkryk met belangrike sake, maar hulle kan later so sterk be­gin steun op hulle eie goeie finansiële beplanning en deeglike organisasie dat hulle komitees die sleutel tot alle besluite en plan­ne in God se diens word. Dan vergeet hulle God se wil is nie hier­van afhanklik nie. Ja, geloof vra ook om goeie beplanning, maar ten diepste is God se koninkryk 'n geloofsaak wat deur liefdevolle verhoudings en vertroue gebeur. God se wil gaan nie oor al ons planne, agendas en aktiwiteite nie, maar oor hoe ons ons eie agen­das, planne en aksies in Jesus se diens stel! Het jy die verskil op­gemerk? God se wil gaan oor Christus, nie oor sy wil vir ons lewe, ons kerk, ons besigheid of wie nog alles nie. Die enigste vraag wat ons kerk en ons besigheid eintlik moet vra, is hoe ons ons eie agendas ter syde stel om God ter wille te wees. Jesus se kos is ook ons s'n, naamlik om God se wil verhoudingsmatig te doen.


Friday, 11 October 2019

Oordenking -

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Ander is anders, maar God se liefde is dieselfde

Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal een. Galasiërs 3:28

Op vliegtuie hou ek my neus graag uit ander se besigheid. Maar op 'n dag beland ek langs 'n klomp omgekrapte ouens op pad iewers heen. Hulle het luidkeels rassistiese opmerkings gemaak, tot groot verleentheid van ander passasiers. Maar toe een ou later met sy pelle oor sy kerk begin praat, kon ek nie stilbly nie. "Hoe op aarde kan jy nou oor kerksake praat na al daardie rassistiese taal?" wou ek weet. Toe was die gort gaar. Ek moes woorde aanhoor wat ek nie wil herhaal nie. Was ons nie in 'n vliegtuig nie, het ek met 'n ingeduikte neus opgeskeep gesit.

'n Ruk gelede vra my jongste dogter my hoekom die kerk so min doen om beter menseverhoudings in ons land te vestig. Toe kon ek nie aan 'n sinvolle antwoord dink nie. Om sout op die wonde te gooi, voeg sy toe by dat sy oor die afgelope jare geen preek gehoor het wat verhoudings tussen verskillende volksgroepe vanuit God se Woord belig nie. "Baie preke op Sondae kon net sowel in Alaska of Toronto gelewer gewees het; so werklikheidsvreemd klink dit," het sy bygevoeg.

Sjoe, dit is sleg dat ons elkeen op ons eie eilande bly in Suid-Afrika. Ten spyte van ons almal se belydenisse dat ons in Christus glo, word min hiervan sigbaar. Rassisme wen gedurig bokant Christelike waardes van respek en agting. Nee, ons kan nie almal se beste vriende wees nie. Maar ons geloof moet 'n daadwerklike impak maak op ons interpersoonlike verhoudings. Dit geld vir swart en wit. Wanneer ons bely Jesus is ons Here moet ons besef ons mensgemaakte grense tel veel minder as ons saambindende geloof. Dan moet genesende verhoudings oor alle grense heen wen. Hoe gaan jy dit vandag laat gebeur?

Thursday, 3 October 2019

Oordenking - Kerk leef

Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Kerk leef

Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die ware God dien (1 Tess 1:9).

Onthou jy die heel eerste naam wat aan volgelinge van Jesus toegeken is? Ja, hulle was "mense van die weg". Hulle identiteit was van die aanvang af geleë in hulle onvoorwaardelike liefde vir God en hulle liefdesdiens aan mekaar. Hulle leiers was gewone mense wat die liggaam van Christus met hulle gawes gedien het, nie 'n klomp werkverslaafde skakelbeamptes nie.

In ons dag wonder vele oor die kerk se toekoms. Dalk moet ons eerder vra: Het die toekoms 'n kerk? Wel, op elke plek waar die liefde van Christus gewone mense aanraak en hulle verander in nie-veroordelende, sagte mense, daar dryf hoop! Op elke plek waar mense warm harte het vir God se wêreld, daar wen die regte soort verhoudings.

Godsdiens bring nie per se groei of nuwe lewe nie! Dit bring eerder vrees, skuldgevoelens, 'n kritiese ingesteldheid, kontrole en wettisisme. Waar Christus se genade egter wen, daar wen vryheid en koinonia. Daar word nuwe verhoudings midde-in ons harde samelewings gebou. Daar word aartsvyande vriende. Dinamiese kerke weet hulle is geroep om sulke nuwe verhoudings te gaan bou, nie net om meer persone op kerklike sitplekke te laat beland nie. Hulle weet groei is gelyk aan toegeruste gelowiges waar elkeen 'n voltydse bedienaar van die Woord is. Hulle weet groei vra om die omhelsing van mense wat anders as ons lyk, glo, praat en dink sonder om hulle te veroordeel of in kerklike fotostate te verander. Hulle weet ook groei is betrokkenheid by vraagstukke soos aardverwarming, waterbesoedeling, rassisme en vigs. Kerke wat leef, weet dit gaan oor die herontdekking van Jesus se radikale boodskap van liefde. Hulle weet daar is geen teenvoeter hiervoor in 'n stukkende wêreld nie.

Preek 29 September - Ds. Eljam - Beklee met die nuwe mens


Friday, 27 September 2019

Oordenking - Kerk-wees


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Kerk-wees

Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volhar­ding van julle hoop op ons Here Jesus Christus (1 Tessalonisense 1:2-3)

Vir Paulus was die kerk van die begin af nooit sinoniem met bepaalde strukture, ordes of byeenkomste nie. Daar was inderdaad baie heilige geboue in die stede wat hy as voorbeelde kon gebruik om aan die verskillende kerke wat hy geplant het gestalte te gee. Maar toe kies Paulus lynreg teen hierdie modelle in vir 'n familiemodel om die eie aard van die kerk te vergestalt. Vir hom was die kerk die groeiende, versorgende fami­lie van God waar mense mekaar opbou, koester en liefhet. Ge­sonde families leef tog saam in harmonie. Hulle bid vir mekaar; dien mekaar; vermaan mekaar; bemoedig mekaar; beskerm me­kaar se goeie naam; vertrou mekaar en ondersteun mekaar. Hulle is die nuwe volk van God hier in die laaste dae tussen die eerste en tweede koms van Christus.

Ongelukkig het die kerk vanaf die vierde eeu verander in 'n statiese instelling. Al die vernaamste godsdienstige aktiwiteite het verskuif vanaf woonhuise na aparte geboue wat spesiaal vir hierdie doel ontwerp is. Geestelike leiers het professionele figure geword. Kortom, die amp van geestelike voorganger het in 'n vol­tydse beroep verander terwyl die res van die kerk eintlik maar net in "deeltydse diens" was vir die Here. Dis 'n fout. Kerkwees gaan vir die Nuwe Testament oor die regte manier van leef saam met Jesus en sy mense. En dit gebeur voltyds, en deur verhoudings! Boonop gebeur dit daagliks en aanhoudend. Die kerk leef. Dis 'n dinamiese, lewende familie van God wat deur die krag van die Heilige Gees begelei word. Die kerk is gewone mense wat in die kragveld van die Almagtige leef en beweeg. Wat 'n eer om deel van die lewende liggaam van Christus te mag wees.

Friday, 6 September 2019

Oordenking - Liefde, die enigste goeie medisyne vir ons verhoudingspyne

Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Liefde, die enigste goeie medisyne vir ons verhoudingspyne
Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde van God in hom wees? (1 Johannes 3:17)
Liefde is nie net gevoelsmatig nie; veral nie daardie liefde waaroor die apostel Johannes skryf nie. Om elke hoek en draai in sy Evangelie en briewe skryf hy oor God se agape (liefde) vir mense en oor ons agape vir mekaar. Agape kan by Johannes ook vertaal word as onvoorwaardelike lojaliteit. Die eerste Johannes-brief verwoord dit as God se absolute lojaliteit aan stukkende, gevalle mense. Trouens, Johannes se basiese samevatting van God se karakter is sy bekende woorde: “God is liefde” (1 Joh. 4:8). Hierdie liefde is nie net 'n goeie emosie van sy kant af jeens ons nie. God se liefde is verhoudings en dade. Daarom gebeur God se liefde op 'n groot en grootse manier volgens Johannes as Hy vir Christus op 'n epogmakende reis aarde toe stuur om vir-altyd-lewe te kom uitdeel (4:10).
God se liefde het 'n nuwe identiteit tot gevolg vir elkeen wat die getuienis oor Christus gelowig aanvaar. Hulle status verander na kinders van God (3:1). Hulle word deel van God se nuwe aardse familie wat in die dampkring van sy liefde leef. Hulle beliggaam God se karakter binne nuwe agape-aangedrewe verhou-dings. Die maniere hoe gelowiges teenoor mekaar en ander leef, is die vernaamste sigbare bewys van God se agape in hulle lewe. Ander beleef verhoudingsmatig dat hulle onvoorwaardelik lojaal aan God is (4:20). Interessant genoeg maak Johannes in die eerste Johannes-brief net een konkrete toepassing oor hoe agape op voetsoolvlak lyk. In 3:17 skryf hy naamlik dat mense wat aardse besittings het en ander gelowiges sien gebrek ly sonder om diep medelye met hulle te hê, 'n leuen leef. Kortom, liefde moet hande en voete kry.

Preek - 1 September - Ds. Hansie - ONS IS geseende mens


Friday, 30 August 2019

Oordenking - Vervang die Internet ander verhoudings?

Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Vervang die internet ander verhoudings?
Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur die bereik wat gered word, sowel as die wat verlore gaan. 2 Korintiërs 2:15
Die internet vervang nooit persoonlike kontak of interpersoonlike verhoudings nie. Maar as ons meen dat betekenisvolle sosiale interaksie onmoontlik is op die internet, begryp ons nie die volle impak van blogs, Facebook, My Space, You Tube, Twitter en kie nie. Of van ons selfoonkultuur nie. En, terloops, volgens 'n onlangse Markinor-ondersoek, besit 80% van alle mense in Suid-Afrika reeds selfone! Nuwe studies vertel dat vele mense eerder hulle harte op Facebook met hulle “vriende” sal deel as met hul biologiese families! Tragies, maar waar! Toegegee, sommige digitale verhoudings is kunsmatig. Ook beleef mense gereeld hoe nuwe verhoudings in die kuberruim ontstaan. Hierdie nuwe beeldryke en verhaalryke media het beperkings, maar dit bied ook fenomenale nuwe moontlikhede tot nuwe konneksies!
Die Here roep my om alle spasies waarbinne ek myself daagliks bevind tot sy eer te vul. Of dit op die internet is, of op 'n bouperseel - ek moet daar aktief aanwesig wees in Jesus se Naam. Of dit langs die sportveld is en of ek in 'n ry staan by die bank - ek is orals aan diens as verteenwoordiger van Christus. Geen spasie waar ek is, is meer of minder belangrik nie. Geen spasie is meer of minder verhoudingsmatig nie. Dit hang van my af met watter inhoud ek dit vul. Dit gaan oor my aktiewe, Christus-aangedrewe impak tussen ander. En dit geld vanaf die digitale werklikheid tot binne die alledaagse werklikheid. Orals moet Christus se eer hoog gehou word. Dit is God se wil.

Friday, 23 August 2019

Oordenking - Versoekings en Genade

Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Versoekings en Genade
Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle 'n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings. (1 Pet 1:6)
Ongelooflik vroeg al word hierdie brief aangehaal as spesifiek deur Petrus geskryf. Jare daarna is daar egter twyfel daaroor gesaai toe aangevoer is dat 'n visserman onmoontlik sulke onoortreflike Grieks soos hierdie sou kon skryf. Petrus is eerlik en sê dat Silvanus eintlik vir hom die brief geskryf het (vgl 1 Pet 5:12). Die gedagtes is dus die van Petrus maar die skryfstyl die van Silvanus.
Petrus skryf sy brief net toe die Christen-vervolging onder Nero begin het. Dit maak die brief so aangrypend: hier praat die warm en bewoë hart van Petrus met medegelowiges wat swaarkry. Ons sleutelvers verwys juis na hierdie “allerhande beproewings” waardeur die egtheid van Petrus se lesers se geloof getoets word. Dit was sekerlik beproewings, maar daar staan letterlik: versoekings (dieselfde woord as in Matt 4) want die beproewing het steeds met die versoeking gepaard gegaan om jou Christenskap te laat vaar. Vir “allerhande” gebruik Petrus die Griekse woord “poikilos”: veelkleurig. Dis ons lot dat ons aan die veelkleurige versoekings van die Bose blootgestel is. As hy nie met die een kleur slaag nie, kom hy met 'n ander. As rooi (eie oordeel) nie werk nie, speel hy met geel (begeerte en geld). As hy nog nie slaag nie, beproef hy ons met sy gewildste kleur: vaal. Dan probeer hy ons geloof en ons lewe vaal, kleurloos, inhoudloos maak. Gevaarlik, hierdie kleuraanvalle op ons.
Maar gelukkig! In sy vierde hoofstuk skilder Petrus die veelvoudige (weer: “poikilos”) genade van God (vgl 4:10). God dek ons te midde van die veelkleurige versoekings met sy veelkleuriger genade. Veelkleurig is die genade van God. Dis soos 'n reënboog heeltemal om ons heen.

Friday, 16 August 2019

Oordenking - Ons Vader

Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Ons Vader . . .
Ons Vader . . . (Matt 6:9)
Wanneer ons God “Vader” noem, bely ons daarmee die aard van ons geloof; bely ons daarmee dat daar een God is wat sorg.
Die grootste bevryding wat die evangelie vir die heiden gebring het, is die sekerheid dat daar net een God en Vader is. Voorheen was hulle slawe van vyandige en vreesaanjaende gode en geeste. Hulle het natuurverskynsels soos weerlig, donder, reën, vuur en talle ander as gode aanbid. Die kind van God hoef egter nie in vrees te lewe dat hy dalk onwetend teen een van 'n skare vernietigende gode sondig nie. Hy vind gemoedsrus in die wete dat daar maar een ware God is — die God van liefde wat hy “Vader” kan noem.
Wanneer dinge soos gevaar, smart, lyding en dood hom daagliks konfronteer, weet die gelowige dat sy tye in die hand van 'n liefdevolle Vader is. Helmuth Thielicke sê dat die mens se lewe vergelyk kan word met die van 'n kindjie wat deur 'n vreesaanjaende woud wandel; daar is skrikaanjaende geluide, duistere gevare en donker skaduwees. Die mens voel klein en nietig in sy angs en vrees. Hy besef by het Iemand nodig om saam met hom te stap en vir wie Hy kan sê: “Vader”.
Maar ons word nie net geleer om te sê “my Vader” nie, maar “ons Vader”. Nêrens in hierdie gebed kom “ek” of “my” voor nie. Om hierdie gebed te bid, is ook om ons verwantskap met alle mense te erken. Jesus het die selfsugtige “ek” vervang met die liefdevolle en gemeensame “ons”.
Wanneer ons “Ons Vader” bid, weet ons ook dat ons onsself na waarde kan skat, want as God ons goed genoeg geag het om ons sy kinders te noem, durf ons onsself nie minag nie — al het ons soveel swakhede.
In verwondering kniel ons voor U, ons Vader, deur Jesus Christus.

Thursday, 8 August 2019

Oordenking - Die Krag van die Heilige Gees

Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
Die Krag van die Heilige Gees
Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen (Tit 2:14)
Jy is baiekeer bekommerd oor jou gebrek aan geestelike groei, maar dit is vir jou baie moeilik om dit aan jouself te erken. Vra jy eerlik en opreg: “Hoe kan ek my geestelike aktiwiteit bevorder en my geestelike groei stimuleer?” dan antwoord niemand minder nie as Jesus Christus: “Dit is die Gees wat iemand lewend maak; die mens self kan dit nie doen nie” (Joh 6:63). Dit is die geheim van groei en ontwikkeling.
Terwyl jou kennis en ervaring van die inwonende Christus verdiep begin sy beeld al meer in jou lewe tot openbaring kom. Dit gebeur egter in direkte verhouding tot jou ywer en toewyding aan die Heilige Gees. Wanneer 'n nietige saadjie ontkiem, het dit die krag om rotse uitmekaar te skeur en ongelooflike struikelblokke in sy groei tot vrugte dra te oorkom. So werk suurdeeg ook in stilte, maar met krag en doeltreffendheid.
Die bron van hierdie krag is die Heilige Gees. Die Gees is die mees praktiese en dinamiese krag in die heelal. Daarom durf jy nie in onmag voortstrompel van een kleurlose dag na die volgende nie. Die Gees is die energie wat die mens geestelik laat groei. Daar is geen bonatuurlike ervaring nodig om die waarheid hiervan te bewys nie — dit is 'n gawe van Christus aan al sy kinders.
Gees van krag en groei, kom leef in my en ondersteun my in my groei na Christus toe.

Preek - 4 Augustus - Ds. Hansie - Ons Here sorg vir ons


Friday, 2 August 2019

Oordenking - Van groewe en grafte


Liewe Vyfhoek-gelowige
Lees gerus hierdie oordenking.
VAN GROEWE EN GRAFTE
Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. Dit is alles die werk van God (2 Kor 5:17-18)
Daar is net 'n diepteverskil tussen 'n graf en 'n groef. Daarom is dit so gevaarlik om toe te laat dat 'n siellose eentonigheid oor jou lewe neerdaal.
‘n Positiewe manier om teen eentonigheid te waak, is om bewus te bly van die lewe rondom jou en van alles wat gebeur. Moenie die welsyn van jou medemens ignoreer nie. Wees hoflik en sien die bedagsaamheid van ander raak. Moenie die skoonheid van die skepping as vanselfsprekend aanvaar nie. Waardeer elke gebaar van vriendskap, want dit kan tot lewenslange kameraadskap lei.
As jy die lewe kleurloos en eentonig vind, kan jy alleen jouself blameer. Moenie onbetrokke en onsensitief wees vir die opwinding en die wonder van die lewe rondom jou nie.
Glo onwrikbaar dat deur die inwonende teenwoordigheid van die nie lewende Christus, jy wel die vermoë het om nie in 'n groef te verval nie en dat jy die eentonigheid van elke dag kan omskep in 'n opwindende ervaring. As 'n mens met Christus verenig is, raak jy nooit afgesluit van wat in die wêreld gebeur nie.
Laat sy Gees jou lei, en jy sal ontdek dat die eentonigheid uit die lewe verdwyn — Hy vernuwe alles elke dag en lig jou uit jou groef voor dit jou graf word.
Dankie, Here, vir 'n vol en opwindende lewe wat ek deur U leer ken het.

Friday, 26 July 2019

Preek 21 Julie - Ds Hansie - Genade is 'n onderwyser


Nuusbrief 28 Julie


Welkom by die Erediens
Ned Geref Gemeente Potchefstroom-Vyfhoek
Sondag 28 Julie 2019
2019 – ONS VIER 50 JAAR VAN GENADE

50 Jaar van Genade en ‘n Ewigheid van Sorg
Dit is ons gemeente tema vir 2019 - die jaar wat Vyfhoek sy 50ste bestaansjaar gedenk.
Iemand skryf so mooi en waar oor ons as gelowiges:
Mense sê altyd dat woorde sonder dade in die Christelike geloof niks beteken nie. En dis waar. Maar ons dink gewoonlik aan groot dade, opspraakwekkende dinge, wat mense se oë laat rek of ‘n kloppie op die skouer verdien. Maar ek is bevrees die Here vir wie ons werk, het eerder onopvallende dade in gedagte: die ongesiene goeie werkie, die stil gebede, die anonieme koevert in die posbus, die persoonlike opoffering waarvan niemand weet nie; die geheime stryde, die onver-melde oorwinnings…..

Sondag 28 Julie 2019
08:00 Mannebiduur : E Vosloo (Van Alphen str)
09:30 Erediens - Ds E Vosloo “Waaraan anker jy jou?” Fil 4:4-7
Deurkollekte:Ons Hulde
09:30 Kleuterkerk en Kategese (Gr1-6)
09:30 Kategese (Gr 7-10)
10:30 Belydenisgroep
10:30 Tee by die luik
18:30 Aanddiens - Ds H Roelofse “Die Here bied ‘n feesmaal aan al die volke” Jes 25:1-9

Dagboek van NG Vyfhoek
Maandag 29 Julie
17:15 Kategese by ES Le Grange
17:15 Bybelstudie in die konsistorie
Dinsdag 30 Julie
14:30 Damesbybelstudie
18:00 Bestuursvergadering in konsistorie
Woensdag 31 Julie
19:00 Plaasbiduur: Naas en Anel Gildenhuys
Donderdag 1 Augustus
18:30 Kleingroepbyeenkoms, kontak vir Hansie indien jy belangstel,
082 789 6855.
19:00 Timoteusgroep
Kontak vir Carla as jy wil inskakel. by 082 552 9642.

Sondag 4 Augustus 2019
08:00 Mannebiduur
09:30 Erediens
09:30 Kleuterkerk en Kategese (Gr 1-6)
10:30 Tee by die luik
10:30 Kategese (Gr 7-10)
10:30 Belydenisgroep
18:30 Aanddiens

Voorbidding vir die volgende siekes
*Jolandi De Jager is tuis na hospitalisasie.
*Laetitia Olivier herstel na ‘n operasie.
*Lorette Frith kry behandeling.
*Karin Van Vuuren herstel na ‘n operasie.
*Fanie Van Vuuren kry behandeling.
*Alet Mayer herstel na ‘n operasie.
*Anker en Driekie Fourie se kleinkind is siek.
Indien daar van jou geliefdes in die hospitaal is, kontak die Leraars of die kantoor. Dit is moeilik om inligting rakende lidmate by die onderskeie hospitale te kry. Stel ons ook asseblief in kennis as daar enige vreugde met die geboorte van ‘n nuweling is, of die teendeel met die afsterwe van geliefdes. Selfs al is hulle nie van ons gemeente nie.

Medelye…..
Aan Liesbet asook
Hennie en Linelia Heenop en gesin met die afsterwe van hulle eggenoot, vader en oupa. Die roudiens is komende Woensdag om 12:00. Mag julle krag ontvang in hierdie hartseer tyd.

Muur van Herhinnering
Ons wil alle gemeentelede attent maak op die feit dat daar nissies beskikbaar is in ons Gedenkmuur.
Die koste van so ‘n nissie beloop R1500,00 en daar pas 2 kissies in.
Julle is welkom om die
Kantoor te besoek vir enige verdere inligting.

Gedenkbundel: 50 - Jaar
Liewe Gemeente. As die gedenkblad Oktober, as die hoogtepunt van ons feesviering verskyn, wil ons hê dat dit besonders sal wees.
Ons vra foto’s van dope, aannemings en troues, wat in Vyfhoek plaasgevind het, bring dit vir ons, en ons onderneem om alles ongedeerd aan u terug te besorg.
As u ‘n interessante ervaring gehad het, of ‘n humoristiese staaltjie onthou, deel dit met ons.
Onthou hierdie is ‘n Feesbundel, bring die menslikheidsfaktor in, nie-mand wil net vervelige statistieke lees nie. Skryf vir ons iets oor jou en Vyfhoek se geskiedenis, so bewaar ons dit vir die komende geslagte.
Skakel vir Martie Langenhoven: 290 5362, Ds Eljam 081 039 3088 of Ds Hansie: 082 789 6855.
Baie belangrik: Afsnydatum vir inhandiging van stof – 29 Augustus

Teeskink beurte vir 2019
28 Julie
Elize Vd Merwe
4 Augustus
Leonora Brewis
11 Augustus
Elise Havenga
18 Augustus
Leanné Laubscher
Indien jy graag wil help met die skink van tee in 2019, kontak my.
Baie dankie: Heleen

Feesprogram vir die res van die jaar!
13 September-Klassieke Konsert
11-13 Oktober-Feesnaweek
Vrydag aand– Gemeente konsert met koop-en-loop etes. Beloof om hope pret te wees.
Sondagoggend-Feesdiens met oudlidmate en die beskikbaarstelling van die Feesbundel.
Onthulling van die gedenkplaat en verversings in die kerksaal daarna.

Projek Winterhoop
Ons gaan ‘n groot poging hierdie jaar aanwend met Projek Winter-hoop, en daarmee het ons julle hulp nodig.
Daar is baie mense daarbuite wat nie die nodige klere en linne het om warm deur die winter te kan gaan nie, en die meeste van ons het weer heeltemal te veel.
So as daar enige warm klere, baadjies, skoene, kouse, serpe en musse is wat julle nie meer gebruik nie, bring dit vir ons.
Daar sal houers in die kerk portale geplaas word, waarin die sken-kings gesit kan word.
Net so ook met linne. Lakens, duvets, kussings, komberse, enige beddegoed. Dit hoef nie noodwendig nuut te wees nie, as dit in jou kaste lê, bring dit vir ons. Elke bietjie help!!!

Verjaarsdae: 28 Julie tot 3 Augustus
28 Julie
Jan Kruis
Alton Nell
Petri Van Zyl
Lynette Venter
29 Julie
Lena Bestbier
Elsuné Els
30 Julie
Alida Weyers
31 Julie
Ignatuis Alberts
1 Augustus
Jannie Peyper
Geroldine Strauss
2 Augustus
Johan Britz
Martie Langenhoven
Rohan Taggart
3 Augustus
Retha Badenhorst
Winston Fuller

Dankoffers
Begroot Mrt-Junie
R250 000
Ontvang Mrt-Junie
R205 939

GHOLFDAG NG-VYFHOEK
Vrydag, 15 November 2019
NG Vyfhoek se jaarlikse gholfdag vind vanjaar op Vrydag, 15 November 2019 by die Potchefstroomse Buiteklub plaas, we-er met die GROOT VLEIS-pryse waarna al die gholfers elke jaar uitsien en van praat.
Kostes: R1 200.00 vir 4 balle (Sluit ‘n boereworsrol en ‘n Shooter by die halfweg nommer 13 in)
Advertensie: Advertensies by ‘n onbemande putjie is R500. Advertensies by ‘n bemande putjie waar u water of bier uitdeel is GRATIS
Borge: Indien u ‘n gat wil borg sonder spelers, is dit R700.
Erkenning sal aan die instansie/besigheid/persoon gegee word tydens die gholfdag.
Gholfers en besigheidsmense in ons gemeente, skakel vir Ds Eljam om hand by te sit!

Ons beplan ‘n informele feeskonsert vir Vrydag 11 Oktober.
Vrolike pret en plesier uit die gemeente vir die gemeente.
Ons moet ‘n program opstel, en daarvoor kort ons deelnemers.
Musiek items, komiese toneeltjies, voorlesings of vertellings, al sulke toepaslike idees, help ons daarmee.
Skakel ons gerus met julle voorstelle en wees deel van die pret. Kerkkantoor (018) 290 5988, Heleen-082 570 2332,
of stuur ‘n e-pos na ngvyfhoek@gmail.com

Friday, 21 June 2019

Preek 16 Junie - Ds. Eljam - Soos suiwer goud


Oordenking - In die leerskool van geduld


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

IN DIE LEERSKOOL VAN GEDULD

. . . dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here (Klaagl 3:26)

Dit gebeur soms dat mense met God ongeduldig word. Hoe verskriklik sou dit nie wees as dit andersom was nie! Dikwels voel mense, al sou hulle dit nie sê nie, dat hulle geduld met God opraak. As hulle bid en hulle gebede word nie binne 'n vasgestelde tyd beantwoord nie, betwy­fel hulle God se gewilligheid en vermoë om hulle pleitredes te beant­woord. Soms raak hulle so ongeduldig dat hulle God selfs tot verantwoording wil roep.

Om jou eie planne te beraam en dan God se seën daarop af te bid, is om God soos ‘n rubberstempel te gebruik om jou planne te wettig. As jy God se seën wil hê, moet jy sy voorwaardes aanvaar.

As jy ongeduldig word oor die pas waarteen God werk, is dit 'n aan­duiding dat jy dinge op jou manier wil doen. As God jou laat wag op 'n antwoord, is dit moontlik dat Hy besig is om jou 'n les te leer — 'n les wat vir jou geestelike groei noodsaaklik is.

Wanneer jy eers geleer het om jou aan die wil van God te onderwerp, bring dit vervulling van jou persoonlikheid en verryking van jou geesteli­ke karakter mee. As Hy jou soms laat wag op 'n antwoord op jou gebede, wees dankbaar en leer die les wat God besig is om aan jou deur te gee.

Vader van genade, skenk my geduld terwyl U besig is om u wil aan my te openbaar.


Friday, 14 June 2019

Oordenking -Christelike besluitneming


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

CHRISTELIKE BESLUITNEMING

Ek het gesê : Sal 'n man soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie gaan nie! (Neh 6 :11)

Wanneer jy moeilike besluite moet neem, neig jy om dit uit te stel of te vermy solank jy kan. Hierdie gesindheid bring egter net onsekerheid en selfverwyt. Om 'n lewe van vrede en gemoedsrus te ken, moet jy bid­dend opsien na die Leidsman en die Voleinder van jou geloof en jou beslissings maak. Hoe langer 'n mens dit uitstel, hoe swaarder lê dit op jou gemoed. Dan word die lewe vir jou 'n las en word jy maklik die prooi van terneergedruktheid of depressie.

Wanneer jy 'n belangrike beslissing moet neem, moet jy nie daarvan wegdraai of dit probeer vermy nie. Dit sal nie maar net verdwyn nie. Neem God in jou vertroue en stel dit biddend en gelowig aan Hom. Stel jou gemoed oop vir die werking van die Heilige Gees. Hy sal jou lei om God se wil te ken. Hy sal jou ook krag gee om met Christelike waagmoed die regte besluit te neem en uit te voer.

Daar is 'n tyd om besluite te neem. As dit verspeel word deur twyfel of uitstel, is dit vir altyd verby en die nadelige gevolge kan onuitwisbaar wees. Om na die wil van God in gehoorsaamheid te besluit en te handel, bring vrede in jou gemoed.

Vader, ek kom bespreek met U die deurslaggewende besluite in my lewe en dank U opreg vir die leiding van u Heilige Gees.


Friday, 7 June 2019

Oordenking - Die prys van dissipelskap


Liewe Vyfhoek-gelowige

Lees gerus hierdie oordenking.

Die prys van dissipelskap

Toe sê Jesus vir sy dissipels: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy
homself verloën, sy kruis dra en My volg" (Matt 16:24)

Christus het nooit gewildheid gesoek nie. Toe die skare Hom wou koning maak, het Hy stilweg verdwyn. Toe 'n talentvolle ryk jongman, sy dienste kom aanbied, het Christus aan hom 'n uitdaging gestel wat hy nie wou aanvaar nie. Hy het bedroef weggedraai van Jesus af. Deur die eeue heen rig Christus aan sy volgelinge die uitdaging van die Waarheid maar nooit het hy ‘n toegewing gemaak om 'n enkele dissipel te oorreed nie.

Of die Meester jou geroep het tot 'n besondere arbeidsveld wat groot opoffering vereis, en of Hy jou geroep en geplaas het in bekende omstandighede waar jy hom moet dien sonder enige opwinding of glans, ­sy vereistes bly dieselfde. Hy vra totale oorgawe en gehoorsaamheid om enigiets te aanvaar wat die toekoms mag inhou. Dit beteken dat jy Hom volkome moet vertrou.

Om jouself oor te gee aan die Here, is nie altyd maklik nie. Die daad van oorgawe is nie 'n eenmalige, emosionele daad nie, maar is 'n toewy­ding van oomblik tot oomblik — 'n hele leeftyd lank. Elkeen wat hierdie uitdaging aanvaar, bely daarmee dat die Here se weg en nie sy eie nie, voorrang sal geniet. Wanneer jy met blymoedigheid jou kruis dra en Christus onvoorwaardelik volg, ontdek jy dat die kruis werklik die in­strument van jou verlossing en groei is.

Ek wil ook my kruis tot u eer dra, Here, sodat ek liggaamlik en geestelik versterk kan word in u diens.